My ouma het al die jare vir ons Kerstafel gemmerbier gemaak. Dis maklik en niks kan ’n dors so deeglik les soos yskoue gemmerbier nie. Dié een het boonop ’n gesonde vrugtekinkel.

Genoeg vir 3 liter

• 10 g brouersgis

• 400 ml louwarm water

• 400 g (500 ml) suiker

• 300 g bevrore frambose

• 2 500 ml water

• hand vol rosyne

• 10 ml jamaikagemmer

• 4 groenappels, in skywe gesny

• 175 g vars frambose

Plaas gis, lou water en suiker in mengbak en roer tot suiker opgelos het. Maak bak toe met kleefplastiek en laat staan op ’n warm plek tot gismengsel dik is en skuimlaag bo-op vorm. Puree bevrore frambose en helfte van water met staafmenger (stick blender). Meng res van water, rosyne, jamaikagemmer en gismengsel by. Maak bak toe met kleefplastiek. laat staan oornag om verder te gis op koel plek – nie in yskas nie. Gooi mengsel deur sif, gooi rosyne weg en plaas bier in yskas tot yskoud. Gooi gebreekte ys in groot ponsbak saam met appelskywe en vars frambose. Gooi yskoue bier oor en sit voor.