'n Mens werk hard, jy word moeg. Sit daarom 'n bietjie geld opsy en bederf jouself of die man in jou lewe met 'n helikopterrit oor die Kaapse Wynlande. (Dalk 'n Moedersdag- of Vadersdaggeskenk?) Julle vlieg nie net nie. Julle doen by verskeie landgoedere aan, proe hier wyn, eet dáár middagete. Ek was een van enkele wynskrywers wat deur Base 4 Helicopters genooi is om dié ervaring mee te maak.

Ons ontmoet digby die Kaapse lughawe by Base 4 se basis (hulle het ook een in die Kaapse Waterfront). Ná 'n bord ontwerpertoebroodjies maak ons ons tuis in een van die luuksste heli's, 'n Bell 407. Die prys? Sowat R28 miljoen! Om een te laat vlieg kos R10 000 per uur. Jy sal darem nie dit hoef te betaal nie (sien onder vir pryse). Base 4 gebruik gewoonlik 'n kleiner helikopter vir sulke vlugte. Ek reken ons was net ekstra bevoorreg omdat ons van die media is.

Die Bell 407 het groot, gemaklike sitplekke en lugversorging. Met die inklim en die vooruitsig van 'n ontspanne dag in vonkelwynweer, verdwyn alle sperdatumstres by die helikopter se klein, oop venstertjies uit.

Wat eerste opval, is die talle skakerings van groen plantegroei daar van bo af. Ook die netheid van die Constantia-vallei se wingerde. Lyk omtrent of die wingerdrye 'n spesiale manikuur ondergaan het.

Ons eerste landingsplek is 'n groot stuk gras digby die Constantia Uitsig Landgoed. Hiervandaan stap die meeste van ons deur die wingerde tot by die wynwinkel. My spykerhakke noop my egter om vir die wynmaker-wingerdboukundige, André Rousseau, 'n saamrygeleentheid te vra. Dis mos warm ook!

Die wynwinkel met sy pienk tema is een van die mooistes en interessantstes wat ek nog beleef het. Pienk is die kleur van die sterre wat net die top-wyne in die befaamde John Platter-wyngids kry, daarom dié tema. En van sulke sterre het Contantia Uitsig se wyne sommer baie.

Die winkel bevat allerhande wyntoebehore, wynboeke en tuisgemaakte snoeperye - van sjokolade tot konfyt.

Kathy Cassels wag ons in met hul splinternuwe Brut Cap Classique wat uit 100% chardonnay bestaan. Lekker vir so 'n warm dag! Hul 2007 Semillon (houtverouderd) wat 5 sterre in die John Platter-wyngids behaal het, is ongelukkig uitverkoop, maar ons kry nog ietsie te proe. Ek kén die wyn goed en spuug dit beslis nie uit nie. Kyk gerus uit vir die semillon van die nuwe oesjaar (2008).

My gunsteling-kultivar kom aan die beurt: chardonnay. Vir net R72 is hul 2008- ongehoute weergawe 'n winskoop. Dit het 'n vars suurlemoengeur. Luidens gerugte is die 2009 Constantia Uitsig Chardonnay nóg beter. Ook die Sauvignon Blanc (2008) met sy diep geurdimensie het die wynskrywers opgewonde. Thai-kos sal die ideale metgesel wees.

Constantia Uitsig se 2007 versnit van sauvignon blanc en semillon is nog 'n gewilde keuse, maar ek kan nie wag vir die rooie nie. Die Contantia Red 2004 wat uit merlot, cabernet en cabernet franc bestaan, oortref my stoutste verwagting. Teen R120 is dit nie goedkoop nie, maar dis die produk wat 'n mens beslis saam restaurant toe kan neem om by die filet te geniet.

Dié landgoed het ook 3 restaurante wat ek met 'n rein hart kan aanbeveel: River Café, Constantia Uitsig en La Colombe. La Colombe is die (duur) een wat koskenners so opgewonde het. Die ander 2 se kospryse is heel bekostigbaar.

Nou is dit Stellenbosch toe. Blaauwklippen. Vlieënier Mike Bothma sê daar's genoeg brandstof in die heli se tenk om eers oor Sandy Bay en Llandudno te vlieg. Die mans wat saamvlieg, is duidelik opgewonde, maar daar's ongelukkig niks vir hul oë op Sandy Bay nie. Maar wat 'n uitsig! Kyk gerus na die meegaande foto's.

Op Blaauwklippen sit Mike die heli sag tussen klippe en stof neer, maar later vlieg hy tot by die Herehuis. Mooier vir die foto.

Die gaste sit oral op die stoep van die Barouche Restaurant en wyn drink, terwyl die kinders rondhardloop en die plaasatmosfeer geniet. Ons ervaar 'n rit in 'n koets deur die wingerd. Dis 'n eerste vir my. Lekker, maar ek kry die perde jammer. "Jy moet eerder 'n perd jammer kry wat nie wérk nie," sê iemand toe ons in die koelte van die Barouche Restaurant aansit vir ete en Blaauwklippen se wyn.

Barouche het 'n nuwe uitvoerende sjef, Daniel Botha. Hy het al by Beluga en die Twaalf Apostels-hotel in Kaapstad gewerk, asook by 'n top-hotel in Bedford in die VK. "Ek glo kookkuns is meer as goeie kos. Jy moet dit met passie beoefen. As jy nie jou eie kos geniet nie, sal jou gaste beslis ook nie," sê hy.

Ons kry eers 'n glas koue Blaauwklippen Landau Rosé 2008 om droë kele te lawe. Delikate aarbei- en framboosgeure van die malbec en shiraz oorval my. Lekker om te weet dat dié rosé minder as 12% alkohol per volume bevat. Ons val weg met 'n sampioen-roket-en-basiliepesto-voorgereg. Die wyn pas perfek.

Die hoofgereg is geelbek met piepklein Italiaanse tamaties, mozzarella en 'n roosmaryn-aartappel-risotto. Seker een van die lekkerste risotto's wat ek nog geproe het! Ons het 'n keuse van Blaauwklippen se Wit Zinfandel 2008 of hul BVS (Blaauwklippen Vineyard Selection) Merlot 2005.

Blaauwklippen is die eerste landgoed wat 'n wit zinfandel (2008) maak, dus 'n witwyn van rooi druiwe. Tegnies het dit 'n uieskilkleur. Vir dié blanc de noir word heel druiwetrosse, stingels en al, gepars. Die wyn het daarom meer geur. Vrugte in dié geval.

Ek proe ook die BVS Merlot. Dit sal perfek by swaarder geregte pas.

'n Ander eerste vir Suid-Afrika is Blaauwklippen se innoverende Noble Late Harvest Malbec 2007. Dit word lekker koud saam met die nagereg voorgesit. Dié rooi soetetjie is 'n treffer saam met die haselneutmousse, tuisgemaakte framboos-roomys en perskes.

Ná ete is dit Franschhoek toe, waar die ondergrondse Haute Cabrière Wynkelder en Restaurant lê. Die heli land op die gras bo-op die restaurant en Hildegard Arnim, die eienaar-wynmaker, Achim, se vrou wag ons vrolik in. Die kelder is 'n moet-sien en Hildegard maak van alles 'n interessante storie. Ek hou veral van die kandelaar wat van Don Perignon-bottels gemaak is. Wanneer dit aangeskakel word, gooi dit 'n skadu-ster teen die plafon. Dom Pérignon, die maker van dié Franse sjampanje, het juis van sy produk gesê: "Ek proe die sterre."

Natuurlik moes ons cap classique proe, dis tog waarvoor Cabrière bekend is. Hul Pierre Jourdan Cuvée Belle Rose 2007 is van 100% pinot noir gemaak en is volgeurig en verkwikkend op so 'n warm dag.

Ons proe ook die Haute Cabrière Chardonnay Pinot Noir 2008. Dié stilwyn is gemaak van die 2 kultivars waarvan méthode cap classique-vonkelwyn (en sjampanje) dikwels gemaak word. In die wyn se ontstaansjaar was die versnit as basiswyn vir vonkelwyn bestem, maar is dit om een of ander tegniese rede nie gebruik nie. Dis net so, sonder vonkel, gebotteleer, maar het so gewild geword dat dit steeds gemaak word! Dis een van die wyne wat ek graag saam met somerkos drink. Proe dit self. Veral chardonnay-liefhebbers wat 'n ongehoute chardonnay verkies, sal daarvan hou.

Op pad terug lughawe toe besluit Mike om deur Devil's Gorge in die Groot-Drakensteinbergreeks te vlieg - tussen twee nou, hoë bergspitse deur terwyl die klowe ver onder 'n mens lê! Wat 'n adrenalien-ervaring om die dag mee af te sluit.

*Prys van 'n Wynland-helikopterrit: R3 395 per persoon vir 'n minimum van 3 mense.

Nuttige nommers:

*Base 4: 021 934 4405 (Waterfront) of 021 934 4405 (http://www.base4.co.za/Content.htm)

*Blaauwklippen Barouche Restaurant: Skakel 021 880 0133 of besoek www.blaauwklippen.com

*Cabrière: Skakel 021 876 8500 of besoek www.cabriere.co.za

*Constantia Uitsig: Skakel 021 794 1810 of besoek www.constantiauitsig.com

Ander vlugte

Kaapstad-middestad: R500 per persoon wat deel
'n Vinnige inleiding tot Kaapstad en aangrensende strande. Die helikopterrit sluit 'n uitsig oor Kampsbaai, Clifton en die Twaalf Apostels in.

*15 minute

Strande en wingerd: R700 per persoon wat deel

'n Vlug oor van die Kaap se bekendste strande. Vlieg oor Tafelberg (van agter af) om die plantegroei en wingerde van Constantia en Steenberg te bewonder.

*20 minute

Tafelbaai tot Valsbaai: R1 000 per persoon wat deel

Ervaar die Moederstad, die strande, die wingerd asook 'n uitsig oor Chapmanspiek en Valsbaai.

*30 minute

Al die pad: R2 000 per persoon wat deel

Sien Kaapstad vanuit alle hoeke soos jy rondom Kaappunt vlieg.

*60 minute

Nagvlug: R1 600 per persoon wat deel

Vertrek ná sononder vanaf Kaapstad Internasionale Lughawe vir 'n romantiese vlug oor Bloubergstrand en die Sentrale Sakedistrik om 'n verligte Kaapstad te sien. Besprekings is noodsaaklik.

*25 minute

Word 'n vlieënier: R1 600 per persoon wat deel

Woon die grondskool by en vlieg 'n Robinson R22 met 'n vlieginstrukteur aan boord.

*45 minute

Avontuurvlug: R1 600 per persoon wat deel

Ervaar die opwinding van 'n twee-motorige helikopter met akrobatiese vermoëns.