Nét die dag om ‘n splinternuwe restaurant in die wynlande uit te probeer! En ek praat vir Manlief om om ook ‘n middag se verlof te neem. Dáár trek ons: Franschhoek toe.

In een van die land se groenste valleie lê die Klein Genot-wynlandgoed. Hier tussen die wingerde het ‘n splinternuwe restaurant pas geopen. “Genot” noem Joey en Angie Diamond, eienaars van die plaas, hul nuwe baba. En het die plek nie sy naam gestand gedoen nie!

Twee swart swane op ‘n reuse-dam verwelkom ons. A! Dis waar Klein Genot se vlagskip-wyn, Black Swan Reserve, sy naam kry. Die wyn is ‘n verruklike versnit van cabernet sauvignon en cabernet franc. Die dam lyk koel en daar anderkant, knus tussen die geil wingerde, staan in silwer geskryf: Genot.

Die sjef, Mark Radnay, verwelkom ons in die restaurant met sy interessante dekor. Ietsie ouwêrelds wat nou weer ‘in’ is - silwer kandelare - en ietsie nuuts - pers-pienk-stoele – val op. Ook ‘n muur wat uit houtstompe gemaak is. Dit verleen atmosfeer en is ‘n besprekingspunt. ‘n Elegante kroeg en ‘n lekker stoep met ‘n wingerd-uitsig rond die prentjie af. Daar wil ek later met ‘n glas wyn sit ...

Babs, die kelner met die wye glimlag, stel haarself voor en bied ons die wynlys aan. Indrukwekkend! Die hele Klein Genot-reeks is daar. Ek beveel beslis die Black Swan en shiraz aan. My man verkies die merlot. Maar, as jy eerder lus het vir ietsie anders, soos witwyn, is daar ‘n hele lys uit die omgewing. Sommige per glas aangebied.

Die spyskaart is so opgestel dat dit iets nuuts in die Franschhoek-vallei bied. Veral vir diegene wat genoeg gehad hetvan haute cuisine. Hier is die kos meer outentiek, oftewel huislik. Maar innoverend.

Die Eikehof Chardonnay pas perfek by my aspersie-aarbei-en-feta-slaai. My man geniet sy Caeser-slaai en chardonnay net so. Dis die regte keuse vir hierdie weer.

Dan kies hy gerolde vars tuna, nog effe pienk in die middel soos dit moet, en ek besluit op filet bedien op aartappel-rosti. Dis perfek gaar. Medium, soos ek daarvan hou. Ook sag en sappig en die tamatie-béarnaise bo-oor is van die lekkerste wat ek al ooit geproe het. Wat van die kos opval, is die aanbieding. Elke bord lyk soos ‘n stylvolle opera.

Vir nagereg sien ons nie nou kans nie, maar vir volgende keer is daar onder meer suurlemoentert, crème brûlée en dekadente sjokolade-torte. Mmm!

Vir wynproe is daar tog plek en ons maak ons tuis in die koue keldertjie op die grondvloer waar ry op ry bottels verkoel word. Kyk, dié mense kán wyn maak, dink ek terwyl ek my aan die Vrydag oorgee.

As daar tyd was, het ons in die Klein Genot-boetiekhotel tuisgegaan. Daar sal jy beslis vergeet jy het roetine.

Gaan self. Beste van alles: dis nie te duur vir sulke kos en sulke ambience nie. Geregte se pryse wissel. Maar daar’s baie vir minder as R100.

*Bespreek by 021 876 2729 of besoek hul webtuiste.