Om te weet
* Cap Classique-vonkelwyn is heerlik saam met nagereg. Dis nie soet nie.
* As jy nie Cap Classique kan bekostig nie, skaf gewone vonkelwyn aan. Hou net by droog of effe droog saam met die nagereg. Probeer Woolworths of Van Loveren s’n.
* Verkoelde edel-laatoes pas by kaas en beskuitjies ná die Kersmaal. Voorbeelde: Neethlingshof (Maria),
Tokara (Zondernaam), Kanu (Kia-Ora) of Villiera (Inspiration).

Kersfees met borrels
Ontvang jou gaste hierdie Kersseisoen met Cap Classique. Kies gerus een van dié: 1. Boschendal le Grande Pavillon Brut Rosé | R80,85 2. Simonsig Cuvée Royale | R165 3. Allée Bleue Brut Rosé | R87,50 4. Weltevrede Philip Jonker Brut Entheos | R80
* Vir Kerskos-en-wyn-pasmaats, sien Herman Lensing se kosblaaie.
Vir iemand spesiaals
’n Besonderse geskenk van Moët & Chandon – ’n bottel sjampanje en twee goudkleurige glase in ’n spesiaal ontwerpte boks. Kry by uitsoekdrankwinkels landwyd. R799,95
’n Lekker Somer-Martini
Geniet dié drankie langs die swembad. Meng 3 dele Beefeater Summer Edition Gin met 1 deel droë vermoet (enige handelsnaam) en ys in ’n mengfles. Skink (sonder ys) oor in ’n martini-glas en versier met bv. ’n braambessie en/of framboos op ’n snoepstokkie.
Gawe Kos en Goeie Wyn ’n Eetplek waar jy móét gaan inloer, is die Square Restaurant & Sushi Bar in die Vineyard Hotel, Kaapstad. Hul wynlys is onlangs met ’n Diner’s Club-toekenning bekroon. Kies uit wyne van verskillende SA kelders, asook internasionale wyne. As jy net ’n glas wyn wil drink, kan jy uit ’n lys goeies met billike pryse kies. ’n Sommelier gee raad oor watter wyn by watter gereg (tradisioneel en kontemporêr) pas. Bespreek by 021 657 4500. Nog inligting by www.vineyard.co.za.