As daar 'n wyngeleentheid is wat ek nooit misloop nie, is dit die Old Mutual Trophy Wine Show. Selfs al het dié skou nie 'n Afrikaanse naam nie!

Dis vanjaar weer in die Vineyard Hotel digby Cavendish Square in die Kaap gehou. En niks is lekkerder as hul kos nie, wat altyd kreef insluit! Sit daarby die hoofgereg, wildsfilet in deeg, en jou ete is volmaak. Drink dan slegs bekroonde wyne as metgeselle en jy het 'n onverbeterlike middagete. Veral as die gaste aan tafel die wynskrywer David Biggs en die top-SA wynmaker, André van Rensburg van Vergelegen, Somerset-Wes, is. Dan lag jy nie net baie nie, jy slurp hul wynervaringe op . . .

Die groot wenner as die Mees Suksesvolle Wynprodusent is wéér Nederburg. Die tweede agtereenvolgende jaar! En wel met twee soetwyne: Die Nederburg Laat-oes Edelkeur 2007 en hul Private Bin Eminence (natuurlike soet muskadel) 2008. Maar dis nie wat my so beïndruk het nie. Kleine Zalze, wat tweede was, verdien meer pluimpies, want dis 'n groter kuns om die beste rooiwyn op die skou te maak. Dié plaas se uitblinkers is Kleine Zalze Family Reserve Shiraz 2007 en hul Family Reserve Cabernet Sauvignon 2007.

Wat rooi versnitte betref, het Saronsberg gewen met hul Nick & Forti's Epicentre 2005.

Simonsig het die beste witwyn gemaak: Simonsig Woolworths Limited Release Chenin Blanc 2008. Dié kelder is ook bekend vir sy "Superquaffer of the Year", 'n uitstekende chenin blanc wat minder as R30 kos! (Jy kry dit basies oral.)

Ander goue medaljewenners

  • Axe Hill Cape Vintage 2006
  • Fleur du Cap Unfiltered Sauvignon Blanc 2008 (sonder hout)
  • Haskell Pillars Shiraz 2007
  • Kanu KCB Chenin Blanc 2006 (met hout)
  • Kleine Zalze Vineyard Selection Shiraz 2007
  • Lomond Pincushion Sauvignon Blanc 2007 (sonder hout)
  • Nederburg Noble Late Harvest 2008
  • Raka Biography Shiraz 2007
  • Vergelegen Red 2004
 

'n Groot verrassing vir my was die wenner van die trofee vir "Ontdekking van die skou (beste waarde)" - dis Ashton Unwooded Chardonnay. En wie't gesê wynmakers agter die berg kan nie wyn maak nie? Die beste gehoute chardonnay is Tokara Stellenbosch Chardonnay 2007. Ek het hom nou die dag op die plaas geproe en moes snak na asem van pure plesier!

So op die tema van chardonnay . . . Een van my ander gunstelinge, Chamonix s'n (van 1999), het die beste houtverouderde chardonnay in die Museumklas gewen. Die wynmaker, Gottfried Mocke, ook al 'n Jong Diners Club-wenner, het aan my tafel gesit en my só herinner aan 'n vorige proe op hul plaas in Franschhoek. As jy ooit 'n pragstukkie natuur (en top-wyne) wil beleef, ry uit soontoe.

Sauvignon blanc het eweneens vir 'n paar verrassings gesorg. Die beste een sonder hout is die Lomond Sugarbush 2007. Die houtverouderde sauvignon blanc (Museumklas) wat my ook beïndruk het, is Tokara White, 'n versnit van sauvignon blanc en 'n bietjie semillon. Ek geniet dit al jare. Dis soos 'n elegante man met genoeg lyf! 

Wat wit versnitte betref, is daar ook twee uitstaande wyne: die trofee vir die beste sauvignon blanc-

Kom proe die wenners

Kaapstad: 5 Junie 17:00 tot 20:00, Jasminium- en Clivia-vertrekke, KIKS.

Johannesburg: 12 Junie 18:00 tot 21:00, Hilton, Sandton, Johannesburg.

Prys: R100. Kaartjies by Computicket of by die deur.

 

semillon-versnit met hout gaan aan die Vergelegen White 2007. Die beste wit versnit (ook met hout) is gemaak deur Fleur du Cap se Andrea Freeborough. Dié fyn vroulike wynmaker is bekroon vir haar Fleur du Cap Limited Release Unfiltered Viognier- Chardonnay-Semillon-Sauvignon Blanc 2007. Heerlik!

Buiten Razvan Macici van Nederburg se goeie soetes het 'n paar ander soetwynmakers ook trofeë ingepalm: Anton Bredell, al sinoniem met goeie port, het weer vanjaar die beste een opgelewer: 'n Bredell Cape Vintage Reserve 2003! Dirkie Christowitz het die beste gefortifiseerde dessertwyn gemaak: 'n Monis houtverouderde muskadel 2001. En Nuy in Worcester het die beste Museumklas gefortifiseerde dessertwyn: Nuy Wit Muskadel 1986.

Ek is daar weg met groot trots en dié wete: Suid-Afrika maak gewis van die beste wyn ter wêreld.