(genoeg vir 8)

  • 500 g sagte botter
  • hand vol tiemie, roosmaryn, salie en pietersielie, gekap
  • 5 knoffelhuisies, gekap
  • 250 g spek, fyngekap
  • sap en skil van 2 suurlemoene
  • 1 kalkoen (die een op die foto was so 2,5 kg)
  • 3 heel suurlemoene, gehalveer
  • 6 rooi-uie, in kwarte gesny
  • 4 knoffelknolle, in breedte gehalveer
  • 500 ml hoenderaftreksel

Plaas botter, kruie, knoffel, spek, sap en skil van suurlemoene in voedselver werker. Ver werk tot ’n growwe mengsel. Maak vel op kalkoen se bors met jou vingerpunte los. Druk helfte van bottermengsel onder vel in en versprei eweredig. Sit halwe suurlemoene in kalkoen se karkas en bind bene stewig aan mekaar met kombuistou. Sit kalkoen in oondpan wat in Weber sal pas en smeer res van bottermengsel oor.

Plaas rooi- uie en halwe knoffelknolle in pan en voeg aftreksel by. Sit in ’n Weber met matige kole en maak deksel toe. Die gaatjies van die Weber moet halfpad oop wees, anders smoor die kole dood. Laat bak stadig vir 3 uur. Maak elke uur oop en skep van die pansouse oor die kalkoen. Maak ook ’n aparte vuur vir ekstra kole om elke uur die kole in die Weber aan te vul. Om te kyk of die kalkoen gaar is, druk ’n mes in die dikste deel van die vleis by die dye. Los mes in kalkoen vir 15 sekondes. As die mes se punt baie warm is en die sap helder wat uitloop, is die kalkoen gaar. Haal uit pan en plaas op opdienbord. Skep groente uit pan en sit voor saam met kalkoen.