Die speserye van Noord-Afrikaanse lande soos Marokko is geurig eerder as branderig.

genoeg vir 8

• 3 steranyse

• 5 kardemompeule

• 10 ml fyn kaneel

• 20 ml vinkelsaad

• 10 ml fyn koljander

• 5 ml droë brandrissie

• 45 ml kanola-olie

• 1 ui, gekap

• 2 knoffelhuisies, gekap

• 8 hoenderporsies (dye en boude), sonder vel

• 1 x 410 g-blik kekerertjies

• 1 x 400 g-blik tamaties

• 1 x 690 g-bottel tamatiepuree

• 1 ingelegde suurlemoen, fyngekap

• 100 g Turkse appelkose

• sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 180 °C. Sit speserye saam in ’n stamper en vysel en maak goed fyn. Verhit olie tot warm in middelslag-oondpot met ’n deksel of bak van tagine-pot. Gooi ui en knoffel by. Braai 5 minute of tot begin verbruin. Voeg speserymengsel by en braai 2 minute. Pak hoender op speserye en braai tot goudbruin. Draai om en braai nog ’n paar minute tot goudbruin. Gooi kekerertjies, tamaties, tamatiepuree, suurlemoen en appelkose by. Geur goed met sout en peper. Sit deksel op en bring tot kookpunt. Bak 2 uur in warm oond of tot hoender van been loskom. Sit voor met amandels en koeskoes.