Dis 'n klassieke kombinasie vir 'n voorgereg. Ek verkies gerookte forel, want dis goedkoper as gerookte salm. Jy gebruik 4 blini's per koekie.

Sowat 40 blini's -8 porsies

  • 1 pakkie (10g) kits-suurdeeg
  • 125 ml warm water
  • 250 ml melk
  • 210 g(375 ml) koekmeel
  • 3 eiers, geskei
  • 1 ml suiker
  • 1 ml sout
  • 80g (90ml) ongesoute botter om blini's in te braai

Meng suurdeeg en warm water saam in 'n bakkie. Laat staan vir sowat 10 minute. Plaas die melk, meel, eiergele, suiker, sout en gesmelte botter saam in 'n voedselverwerker. Voeg suurdeeg by en meng goed vir 2 minute. Maak voedselverwerker oop en skraap die kante daarvan skoon. Meng weer vir 2 minute. Gooi beslag uit in 'n groot mengbak- groot genoeg dat die beslag ongehinderd kan rys. Maak bak toe met kombuislap en laat staan minstens 1 uur. Wanneer die mengsel goed gerys het, klits die eierwitte styf. Vou eierwitte versigtig in beslag. Smelt nog 'n bietjie ongesoute botter. Verhit 'n nie-kleefpan en smeer met 'n bietjie van die gesmelte botter. Gebruik 'n groot opskeplepel en skep van die beslag in die pan, so 3 op 'n slag. Braai oor lae hitte aan die een kant. As daar borrels op die blini begin wys, kan jy dit omdraai en verder braai aan die ander kant. Haal uit en hou eenkant wanneer gaar. Braai res van blini's. Moenie die blini's warm hou nie.

VULSEL

  • 4 houers (230g elk) roomkaas
  • 30g grasuie, fyngekap
  • 400g gerookte forel

Meng een houer roomkaas met fyngekapte grasuie. Plaas 'n blini op werkoppervlak en smeer 'n lagie gewone roomkaas bo-op. Plaas 'n stukkie gerookte forel bo-op. Plaas nog een blini bo-op. Smeer van die grasuie-romkaas bo-op. Sit nou weer 'n blini bo-op. Smeer nog gewone roomkaas op en plaas 'n stuk gerookte forel bo-op. Rond af met 'n blini. Smeer roomkaas om die blini-stapel soos jy 'n koek sal versier. Jy kan ook 'n spuitsak gebruik om dit verder te versier. Maak so agt sulke koekies of meer.