genoeg vir 6

  • 250 ml houtskaafsels
  • 1 kg vars swartmossels

SOUS

  • 45 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 250 g-pakkie spek- of pancettablokkies
  • 250 ml witwyn
  • 1 x 250 ml-houer room
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Rook mossels Voer onderkant van pot uit met foelie en sprinkel houtskaafsels bo-op. Plaas afkoelrakkie op skaafsels. Pak mossels op rakkie. Sit deksel op pot sodat alles dig seël en plaas pot op matige hitte tot rook by deksel begin uittrek. Verwyder pot van plaat en laat rook vir 20 minute. Moenie die pot oopmaak nie. Verwyder oop mossels en hou eenkant.

Maak sous Verhit olyfolie tot warm in middelslag-pot. Voeg ui, knoffel en spek by en roerbraai tot goudbruin, sowat 5 – 8 minute. Voeg wyn by en laat kook tot met helfte verminder. Voeg room by en kook verder tot romerige sous. Geur goed met sout en peper. Voeg gerookte mossels by en meng deur. Sit warm voor met vars brood of selfs soutbeskuitjies!