In Amerika en Engeland noem hulle dit "surf and turf" wanneer 'n vleisgereg, gewoonlik beessteak, saam met seekos voorgesit word. Ek gebruik lamsteak en kreef, met 'n gebakte patat daarby vir 'n eg Suid-Afrikaanse kleurtjie.

genoeg vir 4

• 4 patats

• 4 lamsteaks van sowat 160 g elk

• sap van halwe suurlemoen

• 30 ml worcestersous

• 30 ml olyfolie

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 8 bevrore kreefsterte

• 40 g bronkorsblare (watercress)

Suurlemoen-knoffelbotter

• 30 ml suurlemoensap

• 200 g (220 ml) botter

• 3 knoffelhuisies, fyngekap

• hand vol pietersielie, fyngekap

Verhit oond tot 200 °C. Voer ’n bakplaat uit met tinfoelie. Spoel patats goed af en sny ’n kruis op elkeen. Plaas met kruis na bo op bakplaat en dan in oond. As jy die skil van die patats lekker bros wil hê, moet dit sowat 1½ uur bak. Plaas intussen die lamsteaks in ’n vlak bak. Gooi suurlemoensap, worcestersous en olyfolie oor. Laat staan sowat 30 minute. Geur met sout en peper. Verhit ’n riffelpan tot lekker warm en plaas steaks in pan. Braai sowat 4 minute aan die een kant en draai om. Braai nog sowat 4 – 5 minute, na gelang van hoe gaar jy van steak hou. Om die kreef gaar te maak bring jy water in ’n groot kastrol tot kookpunt. Plaas kreefsterte in kookwater en kook sowat 15 minute. Haal versigtig uit en sit voor saam met steak, gebakte patat en bronkors.

Suurlemoen-knoffelbotter

Sit die suurlemoensap, botter en knoffel in ’n kastrol. Laat die botter oor lae hitte smelt en voeg dan die pietersielie by. Sit warm voor saam met lamsteak en kreef.

Hierdie is ’n lekker hoofgereg vir jou uithang-spyskaart. Eet hiermee saam:

Voorgereg: Vier-kaas-gevulde pimento-rissies

Nagereg: Amandelkoekies