(4-6 porsies)

  • 1 kg vars mossels
  • 2 t (10 ml) fyn knoffel
  • 4 cm-stuk vars gemmerwortel, geskil en baie fyn gerasper
  • 1 e (15 ml) Thai-groenkerriepasta
  • 1 x 400 ml-blik klappermelk
  • 2 e (30 ml) Thai-vissous
  • 2 e (30 ml) sesamolie
  • 1 k (250 ml) vars koljanderblare, van stingel gestroop en grofgekap swartpeper

Aartappelskyfies

6 groot aartappels, gewas en geskil sonneblomolie vir diepbraai sout en paprika om te geur

Stap 1:

Was die mossels onder lopende water en trek enige seewier af. Mossels wat nie  toevou as dit liggies getik word nie, is dood en moet weggegooi word.

Stap 2:

Verhit die knoffel, gemmerwortel, kerriepasta, klappermelk, vissous en sesamolie in ‘n groot kastrol met styfpassende deksel tot dit net kookpunt bereik.

Stap 3:

Gooi al die mossels by die sous en sit die deksel styf op.

Stap 4:

Stoom die mossels vir 15 minute, totdat al die skulpe oopgevou het.

Stap 5:

Strooi die koljander oor, geur en roer deur. Hou eenkant.

Stap 6:

Maak solank die aartappelskyfies: Sny die aartappels in die lengte in baie dun repies en week die repies vir 15 minute in koue water. Dreineer en druk baie goed droog in ‘n skoon, droë vadoek.

Stap 7:

Verhit die olie in ’n diep kastrol tot baie warm. Braai 1 groot hand vol skyfies op ‘n slag tot goudbruin en bros. Skep met ‘n gaatjieslepel uit en dreineer op kombuispapier. Geur met sout en paprika.

Stap 8:

Skep die mossels met ‘n gaatjieslepel in diep sopborde en giet die sous eweredig oor elke porsie. Sit voor met die warm aartappelskyfies.