Genoeg vir 4

  • 4 groot Mediterreense aartappels
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 4 salmfilette, sowat 180 – 200 g elk
  • 4 skywe suurlemoen
  • 4 lourierblare
  • 180 ml Chenin Blanc

Verhit oond tot 200 °C. Plaas aartappels in kastrol en bedek met water. Bring tot kookpunt en kook tot sag. Dreineer en verwyder die skil. Sny in skywe. Maak nou vier pakkies met tinfoelie. Plaas ’n groot stuk tinfoelie op jou werkoppervlak. Pak een gaar aartappel se skywe bo-op mekaar op foelie. Geur met sout en peper. Plaas een salmfilet bo-op en geur met sout en peper. Plaas een skyf suurlemoen en ’n lourierblaar bo-op vis. Geur met sout en peper. Vou die rande van die tinfoelie op sodat dit soos ’n bakkie lyk. Gooi nou 3 eetlepels wyn bo-op en vou die pakkie dig toe. Herhaal met res en plaas pakkies op ’n bakplaat. Plaas in oond vir 18 – 20 minute. Haal uit en skep uit op ’n opdienbord.