(6 – 8 PASTEITJIES, NA GELANG VAN GROOTTE)

Vulsel

  • 1 pak bevrore skelvis (400 g)
  • 75 g botter
  • 75 g meelblom
  • 500 ml melk, verhit
  • 150 g sterk cheddarkaas, gerasper
  • Cayenne-peper (rooipeper) na smaak

Ontdooi die skelvis, plaas dit in ’n kastrol en bedek met kookwater. Laat dit net weer opkook. Dreineer en verwyder alle velletjies, vlok die vis en voel-voel vir graatjies. Smelt botter oor matige hitte in ’n

kastrolletjie en voeg meelblom daarby. Laat dit kortliks prut. Voeg warm melk by en klits heeltyd met ’n draadklitser. Stel die plaat effens warmer en roer terwyl die mengsel prut. Sodra die sous dik en deurgekook is, is dit gereed. Voeg nou die kaas, vis en rooipeper by en meng deeglik. Voeg sout by na smaak. Laat die vismengsel heeltemal afkoel.

Kors

  • 250 g botter, in blokkies gesny
  • 350 g meelblom
  • 250 ml suurroom

Vryf botter in die meel totdat dit fyn krummels vorm. Maak ’n holte in die mengsel en gooi die suurroom daarin. Meng dit in, eers met ’n slaplem-mes en dan met die hand om mettertyd ’n bol deeg te vorm. Verkoel vir so 30 minute. Stel oond op 180 °C. Rol deeg uit tot so 4 – 5 mm dik. Gebruik ’n piering om sirkels uit te sny. Plaas 2 – 3 eetlepels vulsel in die middel van elke skyf, na gelang van die grootte. Maak al om die rand van elke deegskyf nat met ’n bietjie water. Vou nou drie kante oor die vulsel en knyp dit toe. Skep sodoende ’n driehoek-pasteitjie. Plaas op ’n gesmeerde bakplaat. Verf met geklitste eier. Sit vir ’n wyle in die koelkas. Bak in die voorverhitte oond tot goudbruin – omtrent so 30 – 35 minute.