Die vulsel bevat nie 'n verdikkingsmiddel nie - moet dit dus nie te souserig maak nie.

(genoeg vir 6)

  • 1 gevlekte snoek (sowat 850 g)
  • 30 g (30 ml) botter, in blokkies gesny
  • 30 ml suurlemoensap
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 4 aartappels
  • 40 ml olyfolie
  • 2 uie, gehalveer en in skywe gesny
  • 6 groot rosa-tamaties, in kwarte gesny
  • 1 rol (400 g) broskorsdeeg
  • 1 eier, geklits
  • 1 vel (200 g) vierkantige blaardeeg

Verhit oond tot 180 °C. Plaas snoek oopgevlek met die velkant na onder op ’n bakplaat. Versprei botterblokkies bo-op vis. Sprinkel suurlemoensap oor en geur met sout en peper. Maak bakplaat toe met tinfoelie en plaas in oond. Oondbraai 15 minute. Haal uit en laat afkoel. Plaas aartappels in ’n kastrol. Bedek met water en bring tot kookpunt. Kook tot sag. Dreineer en trek die skille af. Hou eenkant. Verhit olyfolie in ’n pan. Voeg uie en tamaties by. Geur met sout en peper. Verlaag hitte en braai oop vir sowat 5 minute. Maak pan toe met deksel en laat verder smoor tot uie en tamaties sag is. Geur met sout en peper. Verwyder vel en grate van snoek en vlok die vis. Voeg by tamatie-en-uiesmoor en meng goed deur. Laat vulsel koud word. Verhit oond tot 200 °C. Voer ’n gesmeerde diep tertbak van 18 cm in deursnee uit met die broskorsdeeg. Sny die oortollige deeg bo-om die rand van die tertbak af. Verf die boonste rand van die deeg met eier. Verwyder skil van aartappels. Sny in skywe en pak ’n lagie op die deeg. Skep helfte van vulsel boop sonder enige van die vloeistof wat dalk in die afkoelproses gevorm het. Dit kan die deeg onder pap maak, want die vulsel bevat geen verdikkingsmiddel nie. Pak weer ’n lagie aartappels en skep die res van die vulsel bo-op. Plaas die vierkantige vel blaardeeg bo-op die vulsel. Sny die oortollige deeg af en knyp die deeg om die rand goed vas. Maak ’n gaatjie in die middel van die pastei. Gebruik ’n oortollige stukkie deeg en vorm ’n lang strokie. Krul dit om die gaatjie. Gebruik ’n skerp messie en sny diagonale lyne bo-op, maar nie dwarsdeur die deeg nie. Verf bolaag met geklitste eier. Plaas in warm oond en bak 1 uur tot deeg goudbruin en bros is.

Wenk

Jy kan ook gerookte snoek vir die gereg gebruik.