Dié resep het in my kookboek, Voorskoot (Human en Rousseau, R220), verskyn. Dis ’n regte staatmaker, iets wat almal kan maak.

genoeg vir 6 – 8

• 1 ui, fyngekap

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• 400 g gerookte snoek, fyngevlok

• 4 takkies tiemie, fyngekap

• 30 g (50 ml) koekmeel

• 2 eiers

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 100 g broodkrummels

• 45 ml olyfolie

• 200 ml goeiegehalte-mayonnaise

• 2 suurlemoene, in wiggies gesny

Plaas die ui, knoffel, snoek, tiemie, meel en eiers in ’n middelslag-mengbak. Meng goed, geur met sout en peper, en verdeel die mengsel in 6 porsies. Vorm ronde balle en druk hulle effens plat. Doop elke bal in broodkrummels. Verhit olyfolie in ’n braaipan oor hoë hitte tot goed warm. Braai die koekies sowat 3 – 5 minute per kant of tot goudbruin en bros. Sit voor met mayonnaise en suurlemoenwiggies.