'n Baie lekker voorgereg. Voeg die brandrissie by as jy meer byt wil hê.

(Sowat 16 Fillodeeg-Pakkies)

Baktyd: Sowat 35 minute

  • 2 groot aartappels, geskil
  • 30 g (30 ml) botter
  • 30 ml melk
  • sout en vars swartpeper
  • 15 ml olyfolie
  • 125 g strepiespek (streaky), in klein blokkies gesny
  • 12 steurgarnale, skoongemaak en in blokke gesny
  • 4 klein sprietuie, gekap
  • 1 groen brandrissie, fyngekap
  • 90 g (100 ml) botter, gesmelt
  • 5 velle fillodeeg

Vulsel

Kook aartappels tot sag. Dreineer en maak fyn. Voeg onmiddellik (terwyl aartappels nog warm is) die 30 g botter by. Meng goed en voeg melk by. Geur met sout en peper. Verhit olyfolie in pan. Braai spek tot bros en dreineer op kombuispapier. Braai steurgarnale in dieselfde pan tot gaar. Voeg spek, steurgarnale, sprietuie en brandrissie by fyngemaakte aartappel.

Stap 1. Verhit oond tot 200 ºC. Plaas een vel fillodeeg op  werkoppervlak. Halveer in breedte. Smeer dun lagie gesmelte botter op een helfte en plaas die ander helfte bo-op. Smeer met gesmelte botter.

Stap 1

Stap 2. Sny die kante gelyk. Sny in drie stroke. Gebruik ’n baie skerp mes of skêr. (Rol orige fillodeeg weer toe en maak toe met kleefplastiek. Dit sal sowat ’n week in die yskas hou. Jy kan dit ook weer vries.)

Stap 2 Stap 2

Stap 3. Skep sowat ’n eetlepel vulsel ’n ent van die bopunt van die deegstrook.

Stap 3 Stap 3

Stap 4. Neem die een hoek en vou oor die vulsel tot by die rand van die deeg – dit sal soos ’n driehoek lyk. Vou die driehoek om en om tot ’n driehoek-pakkie oorbly. Plaas op bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Smeer al die driehoeke met botter en plaas in oond. Bak sowat 35 minute tot goudbruin en bros. Sit warm voor

Stap 4 Stap 4

Wenke vir fillo

  • Gewoonlik koop ons fillodeeg in bevrore vorm. Hou dit in verpakking en laat oornag in yskas ontdooi.
  • Berei vulsel voor jy die fillodeeg oopmaak.
  • Laat deeg opwarm tot kamertemperatuur, anders sit velle aanmekaar vas.
  • Haal uit verpakking en plaas op werkoppervlak. Maak toe met klam lap sodat papierdun deeg nie uitdroog nie.
  • Terwyl jy met een vel werk, bedek jy weer die res met die klam afdrooglap.