(4-6 porsies)

  • 12-16 rou garnale, afgedop
  • 12-16 rou mossels, in die skulp
  • 2 calamari-buise, in 3 cm-blokkies gesny
  • 500 g koningklipmootjies, in 2 cm blokkies gesny, ontdooi
  • 5 e (75 ml) olyfolie
  • 1 e (15 ml) suurlemoensap
  • 2 takkies vars tiemie
  • sout en swartpeper
  • 1 middelslag ui, geskil en baie fyngekap
  • 3 t (15 ml) fyn knoffel
  • 2 x 410 g-blikke gekapte tamaties met sap
  • 1 e (15 ml) fyngekapte vars dille of vinkel
  • 2 e (30 ml) fyngekapte vars pietersielie
  • 1 t (5 ml) brandrissievlokkies (opsioneel)
  • 1 k (250 ml) droë witwyn - chenin blanc, verkieslik ongehout
  • 1 k (250 ml) water
  • 1-2 e (15-30 ml) suiker

Stap 1:

Voorverhit die oond tot 200 °C.

Stap 2:

Sit die seekos en vis, 3 eetlepels van die olyfolie, die suurlemoensap en tiemie in ‘n oondbaksakkie en geur na smaak. Bind die sakkie styf toe en plaas dit in ‘n oondvaste bak. Hou eers eenkant terwyl jy die sop maak.

Stap 3:

Verhit die res van die olyfolie oor matige hitte in ‘n swaarboomkastrol en smoor die ui en knoffel, met die deksel op, vir 5 minute tot net glaserig. Dit moenie verbruin nie.

Stap 4:

Voeg die tamaties, kruie en rissievlokkies (indien gebruik) by, verlaag die hitte, sit die deksel op en prut weer stadig vir 5 minute.

Stap 5:

Verwyder die deksel, giet die wyn en water by en roer. Verhoog die hitte en bring tot kookpunt. Geur liggies met sout en peper - onthou, die seekos het ook sout en peper by. Proe of suiker ook nodig is. Die sop moenie te dik of dun wees nie. Sit die deksel skuins op en prut terwyl die seekos bak.

Stap 6:

Bak die seekos vir 15-20 minute in die oond of tot net gaar. Laat dit effens afkoel en sny die baksakkie oop - oppas dat die stoom wat ontsnap jou nie brand nie.

Stap 7:

Voeg die seekos en kooksappe in die baksakkie alles by die tamatiebasis. Geur na smaak.

Stap 8:

Roer goed deur en sit dadelik voor met knoffelbroodjies.