Resep deur Nadège Lepoittevin-Dasse

Genoeg vir 8

• 1 liter groente-aftreksel

• 800 g witvis

• 50 g spek, gekap

• 250 ml room

• 5 eiers

• 100 g gruyère-kaas, fyngerasper

• 20 ml pietersielie, fyngekap

• 20 ml grasuie, fyngekap

• sout en varsgemaalde swartpeper

Soetrissiesous

• 1 rooi soetrissie, skoongemaak

• 1 knoffelhuisie

• 60 ml olyfolie

• 125 ml jogurt

• hand vol kasjoeneute

• groot knippie rooipeper

Verhit oond tot 150 °C. Bring aftreksel tot kookpunt in ’n middelslag-pot. Posjeer vis en spek 10–15 minute in aftreksel of tot vis gaar is. Verwyder vis uit aftreksel en vlok fyn. Skep gaar spek in voedselverwerker en verwerk tot fyn. Meng gevlokte vis met spek, room, eiers, kaas en kruie. Geur met sout en peper. Gooi mengsel in broodpan van 25x 12cm. Plaas in oond en bak 45 minute of tot gaar. Laat afkoel tot louwarm en plaas in yskas tot yskoud. soetrissiesous Sny soetrissie in growwe stukke en plaas saam met res van bestanddele in ’n voedselverwerker. Verpulp tot glad. Keer gestolde terrien uit op houtbord en sny in porsies met skerp mes. Plaas skywe op opdienbord en skep soet-rissiesous oor. Garneer met vars grasuie.