Die boks-koek, of 'cake mix', kan jy maklik só omtower in koek, koekies of tert . Met dié slim variasies sal niemand weet dit begin met ’n boks-koek nie!

Liezl se resepte

Grondboontjiebotter-krummeltert

Grondboontjie-krummel-tert Fotograaf: Estvan Vermeulen

Genoeg vir een 10cm tertjie of 6 snye

  • 270 ml sjokolade-boks-koek (sowat 1/4 boks)
  • 1 eier
  • 65 ml olie
  • 40 ml suiker
  • 125 ml grondboontjiebotter, gesmelt

Voorverhit oond tot 180C.

Plaas koekmengsel in 'n mengbak. Meng eier, olie en suiker saam en giet by koekmengsel, meng goed deur. Mengsel moet ietwat  krummelrig wees. Verdeel in twee en plaas die helfte onder in 'n voorbereide tertpannetjie (10cm). Smeer gesmelte grondboontjiebotter bo-oor en krummel oorblywende koekmengsel bo-oor. Bak vir ongeveer 20-30 tot gaar en koel af op 'n draadrak.

Appelkoek

Appelkoek Fotograaf: Estvan Vermeulen

  • 1 vanielje-boks-koek (600g)
  • 10 ml kaneel
  • 100 ml melk
  • 3 eiers
  • 180 ml olie
  • 1 blik appel skywe (365g)
  • 1 appel, in dun skyfies gesny
  • room vir bediening

Voorverhit oond tot 170C.

Plaas koekmengsel in 'n mengbak en voeg kaneel by. Meng melk, eier en olie saam en voeg by koekmengsel. Meng goed. Verdeel geblikte appels in twee. Gebruik 'n stokmenger (stick blender) en puree een helfte tot 'n appelmoes. Vou nou appelmoes en oorblywende appelskywe deur die koekmengsel. Giet mengsel in 'n voorbereide koekpan en versier met dun appelskyfies bo-op. Bak 35-45 minute, of tot 'n toetspen skoon uitkom. Koel af op 'n draadrak. Sit voor met geklopte room.

Sjokolade-splinter-koekies

Fotograaf: Estvan Vermeulen Fotograaf: Estvan Vermeulen

Genoeg vir 10-12 klein koekies

  • 250 ml sjokolade-boks-koek (sowat 1/4 boks)
  • 125 ml botter
  • 1 eier, geklits
  • 15 g sjokolade splinters
  • strooisuiker

Voorverhit oond tot 180C.

Plaas koekmengsel in 'n mengbak. Vryf botter met vingerpunte by die koekmengsel. Voeg eier en sjokolade splinter by en meng goed tot mengsel 'n bal vorm. Vorm klein balletjies, plaas op 'n bakplaat en druk balletjies plat met jiu duim. Strooi strooisuiker bo-oor en bak sowat 10 minute. Koel af op 'n draadrak en stoor in 'n lugdigte houer.

Rooifluweel-plaatkoekies

Fotograaf: Estvan Vermeulen Fotograaf: Estvan Vermeulen

Genoeg vir 4-6 plaatkoekies

  • 250 ml rooifluweel-boks-koek (sowat 1/4 boks)
  • 80 ml karringmelk
  • 80 ml melk
  • 1 eier
  • room / mascarpone-kaas vir bediening

Plaas koekmengsel in 'n mengbak. Meng karringmelk, melk en eier saam en voeg by koekmengsel. Meng goed deur. Verhit 'n pan met olie en botter. Skep mengsel in  pan en braai plaatkoekies tot borreltjie bo-op verskyn voordat plaatkoekies omgedraai word. Braai tot goudbruin en sit voor met room of maskarponie.

Aarbei-en-kersie-sjokolade-gebak

Fotograaf: Estvan Vermeulen

  • 220 g geblikte kersies
  • 160 g geblikte aarbeie
  • 10 vars aarbeie, gehalveer
  • 20 ml strooisuiker
  • 500 ml sjokolade-boks-koek (sowat 1/2 boks)
  • 70 g botter
  • 1 eier, geklits
  • sjokoladesous en roomys vir bediening

Voorverhit oond tot 180C.

Plaas gedreineerde kersies en aarbeie asook vars aarbeie in 'n potjie. Voeg strooisuiker by en verhit oor 'n lae hitte vir sowat 3 minute. Plaas koekmengsel in 'n mengbak. Vryf botter met vingerpunte by die koekmengsel. Voeg eier stadig by net totdat koekmengsel bymekaar kom om 'n effens krummelrige koek-deegie te maak. Skep aarbeie en kersies in 'n klein oondbestande bak. Krummel sjokolade mengsel bo-oor. Bak vir 20 minute tot sjokolade krummels goed gaar is. Bedien met sjokolade sous en roomys.

Watter boks om te koop?

  • Ek gebruik graag die Ina Paarman-reeks, omdat die resultaat altyd dieselfde is - 'n heerlike, klam koek. Ek glo dié koek is onfeilbaar! 

  • As jy bereid is om meer op te dok vir smaak, probeer gerus die NOMU-reeks se boks-koek.

Bêre gerus 'n boks-koek in jou spens en tower maklik en vinnig met die resepte vir jou volgende kuiergaste!

Lekker bak

Klits-en-Klets Kok

Liezl

Klits-en-Klets KokVolg my ook nou hier en kook saam

Twitter: @KlitsenKletsKok

Facebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok

Indien jy een van die Klits-en-klets-blogs gemis het, klik HIER.