Kors

  • 1 pakkie tennisbeskuitjies,  fyngemaak
  • 60 ml (4 e) botter,    gesmelt

Vulsel

  • 2 x 397 g kondensmelk
  • ½ k kookwater
  • 1 e suurlemoenskil
  • ½ k suurlemoensap
  • 4 eiergele
  • knippie sout

Meringue

  • 4 eierwitte
  • 60 ml (4 e) strooisuiker
  • 60 ml (4 e) versiersuiker

Metode:

Meng die fyngemaakte beskuitjies en gesmelte botter totdat al die beskuitjiekrummels bedek is. Druk die beskuitjiemengsel in ’n gesmeerde tertpan oor die bodem en aan die kante vas. Sit die kors in die yskas terwyl die vulsel gemaak word. Klits al die vulselbestanddele (kondensmelk, water, skil, suurlemoensap, eiergele en sout) saam in ’n mengbak. Giet dié mengsel in die afgekoelde kors.

Bak die mengsel en kors teen 170 grade Celsius vir 20 minute. Haal uit die oond en bestrooi liggies met mielieblom – dit sal help dat die meringue in posisie bly wanneer die tert gesny word. Om die meringue te maak, klits die eierwitte totdat dit sagte punte vorm – die bak behoort skoon en droog te wees. Nadat sagte punte gevorm het, voeg die strooisuiker lepel vir lepel by. Die mengsel moenie ‘korrelrig’ voel as dit tussen die vingers gevryf word nie. Voeg dan die versiersuiker lepel vir lepel by totdat dit styf en glansend is.

Spuit die meringue bo-op die gebakte vulsel en kors of skep dit bo-op en gee dit vorm met die agterkant van ’n lepel. Bak dit  teen 150 grade Celsius vir 25 minute. Skakel die oond af en laat die oonddeur ’n entjie oop terwyl die tert in die oond afkoel. Sit voor wanneer dit heeltemal afgekoel het en in die yskas was.