Verruil vanjaar gebraaide aartappels op jou feestafel vir hierdie Aartappelbrood. Dis heerlik met sagte botter.

genoeg vir 2 brode

• 1 x 10 g-sakkie kitsgis

• 250 ml louwarm water

• 100 g (180 ml) koekmeel

• 170 g aartappel, gekook tot sag en fyngedruk

• 575 g (1 025 ml) broodmeel

• 420 ml water

• 45 ml heuning

• 15 g (15 ml) sout

Plaas gis, louwarm water en koekmeel in middelslag-mengbak. Roer met houtlepel tot gis opgelos is. Sit 6 uur of oornag in yskas om te rys. Plaas gismengsel, aartappel, broodmeel, water, heuning en sout in bak van elektriese menger. Knie teen hoë spoed vir 10 – 12 minute of tot deeg in een bal saamkom. Plaas deeg in bak wat met olie gesmeer is en laat rys op warm plek tot dubbel die volume, sowat 2 – 4 uur.

Knie die deeg af en laat rys weer vir 20 minute. Herhaal die afknieproses nog 3 keer. Vorm deeg in twee ronde balle en sit op bakplaat wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Sif dun lagie meel oor brood en laat rys vir nog 25 – 30 minute of tot dubbel die volume. Terwyl die brood rys, verhit oond tot 220 °C. Gebruik ’n skerp mes en maak 4 snye bo-op brood. Bak vir 30 – 35 minute of tot goudbruin en gaar.

Wenk

Dis ’n baie sagte deeg. Doop jou hande in koekmeel voor jy die deeg hanteer en keer so dat dit aan jou hande vassit.

Kyk HIER na die res van ons Kersfees-spyskaart