Vrugte-blatjang

(8 porsies)

  • 1 liter koue water
  • 125 g gedroogde appelringe, in stukkies gesny
  • 125 g gedroogde pere, in stukkies gesny
  • 125 g gedroogde appelkose, in stukkies gesny
  • 125 ml lemoensap
  • 100 g (125 ml) suiker
  • 1 kaneelstok
  • 1 heel naeltjie

Gooi 500 ml van die water in ’n bakkie en sit al die gedroogde vrugte daarin. Laat week 1 uur. Die vrugte sal opswel en baie van die vloeistof sal verdwyn. Plaas nou geweekte vrugte plus die weekwater plus die res van die water in ’n kastrol. Voeg lemoensap, suiker, kaneel en naeltjie by. Bring tot kookpunt en laat prut vir 20 – 30 minute tot dik. Laat afkoel.

Baklava-stroop

  • 400 g (500 ml) suiker
  • 300 ml water
  • 30 ml rooswater

Sit suiker en water in ‘n kastrol en bring tot kookpunt. Laat prut 10 minute en haal van hitte af. Voeg rooswater by en laat afkoel. Hou eenkant.

Baklava-samoesas

(sowat 20 baklavas)

  • 50 g pistasieneute, uitgedop
  • 50 g gepelde amandels
  • 50 g pekanneute
  • 65 g (125 ml) versiersuiker
  • sowat 100 g ongesoute botter
  • 8 velle fillodeeg

Verhit oond tot 180 °C. Kap al die neute baie fyn in ’n voedselverwerker. Gooi in ’n bakkie en voeg versiersuiker by. Meng goed en hou eenkant. Smelt botter. Plaas een vel fillodeeg op ’n werkoppervlak en smeer van die ongesoute botter bo-op. Sit nog ‘n vel fillodeeg bo-op. Sny die rande van die deeg mooi gelyk. Sny dit nou in sowat 8 cm stroke. Skep van die neutvulsel in een hoek en vou toe soos ‘n driehoek – sien skets. Smeer weer met botter en plaas op uitgevoerde bakplaat. Herhaal tot jy sowat 20 baklavas het. Sit in ’n oondbak en bak sowat 30 minute tot bros en goudbruin. Haal uit en sit in ’n ander bak. Gooi van die stroop oor. Laat koud word. Sit voor saam met koue vrugte-compote.

Wenk: As daar van die neutvulsel oorbly, bêre dit in ‘n lugdigte houer.

Om te weet Hou altyd jou oop fillodeeg met ‘n klam doek toe. Dit droog baie vinnig uit.

Hoe om ‘samoesas’ te vou

Berei die deeg voor soos beskryf in die metode van die samoesa-resep. sny dit in sowat 8 gelyke stroke. Skep vulsel op ’n driehoek aan die een punt van een strook (1) en vou die deeg oor soos aangedui in die skets (2). Bly vou dit al langs die strook deeg af tot net ’n driehoek oorbly.