Sy het spookasem-pienk hare en ’n flambojante koek-tatoe op haar arm. Dit verklap dat Anmar Wilding ’n meesterbakker van beroep is. Pas van Brittanje af terug in Suid-Afrika deel sy die fyn kuns van Franse makrolletjies met ons.

genoeg vir 40 makrolletjies

• 190 g versiersuiker

• 190 g amandelmeel

• twee bakkies met 70 g eierwit elk, by kamertemperatuur

• ’n halwe vanieljepeul, saadjies uitgeskraap

• jel-voedselkleursel van jou keuse, kyk by bakwinkels

• 55 g water

• 190 g strooisuiker

Voor jy begin

Daar is vier dinge wat jy in die kombuis moet hê om perfekte macarons te maak:

1. ’n Elektriese menger en voedselverwerker.

2. ’n Digitale skaal – jy moet alles 100% akkuraat afmeet as jy mooi macarons wil maak.

3. ’n Suikertermometer – akkuraatheid is weer eens jou beste vriend.

4. ’n Sif – sif al die bestanddele deeglik om sukses te verseker.

Begin hier

1. Voer twee bakplate uit met bakpapier. Sny die papier sodat dit presies op die bakplate pas – geen rande teen die kante van die bakplaat op nie. Gebruik ’n R5-muntstuk en trek 20 sirkels af op elke stuk bakpapier – altesame 40. Laat sowat 2 cm oop tussen die sirkels, want die mengsel kan effens sprei.

2. Meet al die bestanddele af in verskeie bakkies wat heeltemal skoon en droog is.

3. Lees die resep deur voor jy begin – dit gee jou ’n goeie begrip van die hele proses.

Jou kookklas met Anmar Wilding: Macarons stap vir stap

1. Verhit oond tot 140 °C. Sif versiersuiker, gooi klontjies weg en weeg weer – dit moet steeds 190 g wees. Doen dieselfde met die amandelmeel. Plaas suiker en meel in ’n voedselverwerker en meng goed. Sif weer.

_16A6542-Edit FOTO Willem Lourens

2. Meng 1 bakkie (70 g) eierwit met meelmengsel. Voeg vanieljesaadjies en paar druppels voedselkleursel by. Gooi eers net 1 of 2 druppels by en voeg later nog by indien nodig. Meng tot gladde pasta vorm.

_16A6576-Edit FOTO Willem Lourens

3. Plaas res van eierwit in elektriese menger se bak en klits by medium-spoed tot sagte punte vorm. Skakel menger af en kook nou suikerstroop.

_16A6578-Edit FOTO Willem Lourens

4. Meng water en strooisuiker in middelslag-pot en roer oor lae hitte tot al die suiker opgelos het. Verhoog hitte en bring tot kookpunt. Kook tot 118 °C op suikertermometer wys. Haal dadelik af van hitte.

_16A6552-Edit FOTO Willem Lourens

5. Skakel menger aan op volle spoed en gooi warm stroop in dun straaltjie by geklitste eierwitte. Klits meringue tot dik en afgekoel. Vou dit in 3 dele by amandelpasta in – die eerste deel maak die mengsel los.

_16A6555-Edit FOTO Willem Lourens

6. Skep mengsel in spuitsak met skerprand-tuit van 1 cm. Plak hoeke van bakpapier-voering met bietjie van mengsel vas aan bakplate. Spuit sirkels van die mengsel op die gemerkte plekke op die papier.

_16A6584-Edit FOTO Willem Lourens

7. Maak só klaar

Laat val bakplate met deegsirkels van ’n hoogte van sowat 15 cm op jou werkvlak – doen dit 3 keer. Laat staan sowat 30 minute. Druk nou liggies aan die oppervlak van die deegsirkels – as niks aan jou vinger vassit nie, is hulle reg. Bak 20 minute – moenie die oond vroeër oopmaak nie, want hulle kan platval. Wanneer genoeg tyd verby is, toets jy die makrolletjies deur die deegdoppies saggies heen en weer te beweeg. As die doppies nog los voel, moet dit langer gebak word – die bokant van die doppie moet glad nie beweeg nie en dit moet skoon van die papier afgetrek kan word. Haal uit oond en laat afkoel voor jy dit aftrek. Bêre tussen lae bakpapier in ’n lugdigte houer tot benodig. Makrolletjies kan tot ’n week in die yskas hou.