Dié Croquembouche-trifle lyk dalk na baie werk, maar dit is eintlik heel eenvoudig. Jy kan alles reeds drie dae voor die groot kuier reg hê en dan net aanmekaarsit.

genoeg vir 10

• 500 ml water

• 200 g botter

• 5 ml sout

• 280 g (500 ml) koekmeel

• 6 eiers

KARAMELVLA

• 5 eiergele

• 150 g (180 ml) strooisuiker

• 100 g (210 ml) mielieblom

• 500 ml melk

• 1 x 350 g-blik karamelkondensmelk

KARAMELSOUS

• 350 ml room

• 200 g sagte fudge

MAAK SO KLAAR

• 350 ml room

• 5 ml vanieljegeursel

• 200 g grondboontjielekkers, fyngekap (brittle)

• 200 g (250 ml) suiker

• 60 ml water

Verhit oond tot 180 °C. Plaas water en botter in middelslagpot. Bring tot kookpunt met deksel op. Voeg sout en meel alles op een slag by en roer met ’n houtlepel tot alles in een bal saamkom. Hou aan roer vir nog 3 minute. Verwyder pot van plaat en laat mengsel sowat 10 minute lank afkoel. Voeg eiers een vir een by. Meng elke keer goed. Voer bakplaat met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kossproei. Skep teelepels vol van die mengsel op die bakplaat. Bak vir 35 – 40 minute of tot goudbruin. Laat afkoel.

Karamelvla Plaas eiergele en strooisuiker in menger se bak en klits tot lig en romerig. Klits mielieblom by. Verhit melk in middelslagpot tot net onder kookpunt. Voeg by eiermengsel terwyl jy roer. Gooi terug in pot en roer sowat 5 – 8 minute tot mengsel dik is. Roer oor lae hitte vir nog 3 minute. Gooi in skoon bak en plaas kleefplastiek direk op die vulsel. Laat afkoel. Haal kleefplastiek af en klits koue mengsel tot glad. Voeg kondensmelk by en klits weer tot glad. Hou eenkant.

Karamelsous Plaas room en fudge in kleinerige pot en roer oor lae hitte tot glad. Hou in yskas tot afgekoel.

Maak so klaar Klits room tot sagte punte vorm en meng vanielje by. Vul ’n spuitsak daarmee. Maak ’n klein gaatjie in elke poffer met ’n dikkerige sosatiestokkie. Spuit room in poffers. Gooi van karamelvla onderin groot glashouer. Sprinkel hand vol grondboontjielekkers oor. Pak ’n paar poffers bo-op en gooi van karamelsous oor. Herhaal tot houer vol is en al die bestanddele opgebruik is. Eindig met poffers. Plaas suiker en water in ’n skoon pot en bring tot kookpunt. Laat kook vir 5 – 8 minute of tot ’n goue karamel vorm. Verwyder karamel van hitte en laat afkoel tot dit soos heuning lyk. Skep lepels vol van die warm karamel en laat drup vanaf ’n hoogte op die bakpapier om goue karameldrade te vorm. Maak alles bymekaar in ’n bondel en plaas bo-op trifle. Sit voor.

Kyk HIER na die res van ons Kersfees-spyskaart