Genoeg vir 4 – 6

• 2 medium-eiervrugte

• 5 ml sout

• sowat 200 ml olyfolie

• 5 groot rosa-tamaties

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 2 uie, gehalveer en in skywe gesny

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• 4 reghoekige velle fillodeeg

• sowat 60 ml gesmelte botter

• 300 g mozzarella-kaas, in skywe gesny

• 40 g vars basiliekruidblare

Verhit oond tot 180 °C. Sny eiervrugte in skywe van sowat 2 cm en plaas in ’n groot bak. Bedek met koue water en voeg die 5 ml sout by. Laat week sowat 30 minute. Sprinkel intussen ’n bietjie van die olyfolie op ’n bakplaat. Sny elke tamatie in 3 skywe. Pak tamaties op bakplaat en geur met sout en peper. Plaas in oond en oondbraai 20 minute. Haal uit en laat afkoel. Verhit nog ’n klein bietjie van die olyfolie in ’n pan en voeg uie en knoffel by. Geur met sout en peper. Braai uie tot sag en gaar. Haal van die hitte af en laat afkoel. Haal eiervrug uit water en droog baie goed af met kombuispapier. Verhit olyfolie in ’n pan en braai eiervrug daarin. Onthou, eiervrug is soos ’n spons wat olie opslurp en jy sal gedurig ekstra olie moet byvoeg. Dreineer gebraaide eiervrug op kombuispapier. Geur met sout en peper en laat afkoel. Plaas een reghoekige vel fillodeeg met lang sye links en regs op ’n werkoppervlak en verf ’n bietjie gesmelte botter bo-op. Plaas nog ’n vel deeg bo-op en verf met botter. Herhaal met ander twee velle deeg tot jy vier velle deeg opmekaar het. Pak die eiervrug in ’n lang dun ry van twee stukke langs mekaar in die middel van die boonste vel deeg. Los 4 cm bo en 4 cm onder oop sodat die deeg om die vulsel gevou kan word. Nou volg ’n laag van die mozzarella, en dan ’n laag tamatie. Pak nou ’n laag basiliekruidblare bo-op. Skep die gebraaide uie op die basiliekruid en pak dan weer ’n ry eiervrug, gevolg deur ’n laag basiliekruid en kaas. Vou die deeg bo en onder om die vulsel en vou dan toe van die kante af, en plaas op ’n bakplaat. Verf met gesmelte botter en plaas in die oond. Bak 45 minute tot goudbruin en bros. Haal uit en sit warm voor.