(6 porsies)

Appels

  • 400 g (500 ml) suiker
  • 175 ml water
  • 1 ml kremetart
  • 250 ml warmwater
  • 4 groot Granny Smith-appels
  • 50 ml brandewyn of muskadel

Kluitjies

  • 1 stuk pypkaneel en/of gedroogde gemmer
  • 3 stukkie droë nartjieskil
  • 3 kardemomsade
  • 1 liter melk
  • 45 ml mielieblom
  • 45 ml vlapoeier
  • 45 ml koekmeel
  • 1 ml sout
  • 3 ekstragroot eiers, geskei
  • 1 ml amandelgeursel
  • 5 ml vanieljegeursel

Afronding

  • 60 ml Van der Hum-likeur
  • 105 g (125 ml) strooisuiker
  • 10 ml fyn kaneel

Appels: Skep suiker, water en kremetart in 'n kastrol en roer oor lae hitte totdat suiker opgelos is. Verhoog hitte en verhit tot kookpunt. Sit die deksel 1 minuut lank op die kastrol om die binnekant van die kastrol skoon te "stoom". Haal deksel af en hou aan met kook totdat mengsel begin verkleur. Dit begin eers liggeel, dan ligbruin en dan donkerder bruin word - die stroop is besig om te karamelliseer. Ek hou van 'n donker karamel, maar pasop dat die suiker nie brand nie. Haal van hitte af en voeg warmwater versigtig by. Pasop, dit spat! Plaas terug op plaat en roer om 'n helder stroop te verkry. Skakel hitte af en laat die stroop afkoel. Nou vir die ding! Skep die afgekoelde stroop in 'n glasof ander mikrogolfbestande bak. Mikrogolf 5 minute lank teen 100% krag. Verwyder uit mikrogolfoond. Skil appels en sny in agtstes. Plaas onmiddellik in die warm stroop. Sprinkel die brandewyn oor, bedek met kleefplastiek, druk 'n paar

gaatjies daarin en mikrogolf 5 minute lank teen 50% krag. Verwyder uit die mikrogolfoond en meng liggies deur. Herhaal. Laat net so staan, verkieslik oornag. Die appels sal die stroop absorbeer en wonderlik gekaramelliseer wees. Kluitjies: Skep die melk, kaneel en/of gemmer, skil en kardemom in 'n kastrol en verhit 30 minute lank oor lae hitte. Laat afkoel. Giet deur 'n sif in 'n skoon kastrol. Meng mielieblom, vlapoeier, koekmeel en sout. Maak aan met 'n bietjie van die melk om 'n gladde pasta te vorm. Verhit res van melk tot warm. Giet van die warmmelk by meelpasta in en klop tot glad en klontvry. Giet meelmengsel in kastrol by warmmelk. Roer deurgaans om 'n dik pap te vorm. Kook 2 - 3 minute lank terwyl jy aanhoudend roer. Verwyder van hitte en klop eiergele onmiddellik een vir een by. Roer die amandel- en vanieljegeursel by. Bedek melkpap dig teen oppervlak met waspapier of kleefplastiek, wat met botter gesmeer is om te voorkom dat 'n vel vorm. Laat afkoel. Rangskik appelskywe in poedingbakkies en verdeel stroop tussen die bakkies. Skep "kluitjies" met 'n groot skeplepel in die middel van die appelskywe. Giet 10 ml Van der Hum oor elke kluitjie. Meng strooisuiker en kaneel en strooi bo-oor.