Dis baie maklik om die beslag vir die koekies te maak. Om hulle te vou is nogal 'n kuns en jy sal 'n paar "flops" hê voordat jy die slag agterkom.

Sowat 15

  • 2 eierwitte
  • 2,5 ml vanieljegeursel
  • 2,5 ml amandelgeursel
  • 45 ml sonneblomolie
  • 120 ml (67 gram) koekmeel
  • 7,5 ml mielieblom
  • knippie sout
  • 120 ml suiker
  • 15 ml water

Verhit jou oond tot 160 °C. Klits die eierwitte, vanielje, amandelgeursel en olie saam tot skuimerig. Sif die meel, mielieblom, sout en suiker saam. Meng die water met die gesifte bestanddele. Voeg nou dié mengsel by die eierwit-mengsel. Dit moet ’n smeerbare beslag vorm. Skep 1 eetlepel van die beslag en smeer ’n sirkel van sowat 10 cm op ’n uitgevoerde bakplaat. Bak twee koekies op ’n slag vir sowat 8 – 10 minute. Die rande van die koekies sal bruin word. Haal uit en skuif een van die koekies onmiddellik van die bakplaat af. Plaas dit oor ’n speserybotteltjie sodat jy ’n holte in die binnekant kan vorm. Vou die koekie soos ’n halfmaan en bring die twee punte bymekaar. Werk vinnig en herhaal met die tweede koekie. Bak die res van die beslag. Jy gaan nie koekies kry soos dié wat jy koop nie. Daar sal gate aan die kant wees – dis maklik om ’n boodskap op ’n stukkie papier in te druk. Werk versigtig, hulle breek sommer.