Jy het dit nodig...

(Maak 6 tertjies)

  • 280 g (500 ml) koekmeel
  • 30 ml strooisuiker
  • 155 g botter
  • 45 ml yskoue water
  • 6 rooi appels
  • 45 ml botter
  • 45 ml bruinsuiker
  • sap van 2 suurlemoene
  • versiersuiker om oor te sif
  • roomys en vla om mee voor te sit

  1. Sif meel en suiker in 'n groot mengbak. Vryf botter en meel met jou vingerpunte saam totdat dit soos fyn broodkrummels lyk. Voeg yswater by en meng met 'n slaplem-mes totdat deeg bymekaarkom. Voeg nog water by indien nodig. Draai deeg toe in kleefplastiek en laat rus in yskas vir 20 minute.

Stap 1 Stap 1

2. Rol deeg tot sowat 2 mm dik op 'n meelbestrooide oppervlak uit. Sny in vierkante van 15 x 15 cm. Spuit 6 losboom-quichepannetjies van 12 cm met kleefwerende kossproei. Voer uit met deeg en sny dit wat oorhang af. Laat rus in yskas vir 20 minute. Prik bodem met 'n vurk en bak blind vir 15 - 20 minute of tot goudbruin en gaar.

Stap 2 Stap 2

3. Smelt botter in 'n middelslag-pot. Voeg bruinsuiker by. Skil 4 van die appels en ontklok. Sny in growwe stukke by die botter in. Verlaag die hitte en laat stadig stowe vir 10 minute of totdat die appels sag is. Maak in 'n voedselverwerker fyn. Laat koel af en hou eenkant.

Stap 3 Stap 3

4. Vul gebakte tertdoppies met appel-puree. Sny oorblywende 2 appels in dun skywe en druk suurlemoensap bo-oor. Rangskik appelskywe op tertjies. Sif versiersuiker oor en plaas onder warm oondrooster vir sowat 5 minute of totdat versiersuiker smelt. Sit warm voor met vanieljeroomys en warm vla.

Stap 4 Stap 4

Nie lus vir appels nie?

  • Smelt 100 g sjokolade saam met 80 ml room.Gooi in die gaar doppies saam met bessies van jou keuse.
  • Vul tertjies met lepels vol mascarpone. Sit heuning en neute van jou keuse bo-op vir 'n vinnige kaas-gang.
  • Bring 200 ml melk tot kookpunt. Klits 2 eiergele saam met 45 ml strooisuiker en 30 ml mielieblom. Gooi warmmelk by en sit weer terug op die hitte. Bring tot kookpunt terwyl jy roer. Kook tot dik en gaar. Gooi in tertdoppies en laat koel af.

Wat is blind bak?

Dit beteken jy voer die rou tertdoppie met bakpapier uit en vul dit met rou rys of bone.Verwyder halfpad deur die bakproses. Dit voorkom dat die deeg rys. Jy kan die rys of bone wat jy gebruik het, bêre en weer gebruik om blind te bak.