In elke bakkery in Frankryk sal jy hierdie vlatert raakloop. Dis byna soos ons eie melktert en maklik om te maak, al verg dit ’n bietjie tyd.

Genoeg vir 6 – 8

Deeg

• 150 g (270 ml) koekmeel

• 1 ml sout

• 20 g (30 ml) strooisuiker

• 75 g (80 ml) ongesoute botter, in blokkies gesny

• 50 ml koue water

Plaas meel, sout, suiker en botter in ’n voedselverwerker. Meng tot botter goed gemeng is met meel. Voeg water by en meng tot deeg vorm. Haal deeg uit en maak toe met kleef-plastiek. Laat rus 30 minute in yskas. Rol deeg baie dun uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Voer ’n losboompan van 23 x 4 cm daarmee uit.

Vulsel

• 750 ml melk

• 125 ml water

• 4 eiers

• 370 g (440 ml) strooisuiker

• 1 ml vanieljepoeier

• 60 g (125 ml) mielieblom

• 15 ml fyn appelkooskonfyt

Plaas oond se rak in die middelvakkie. Verhit oond tot 180 °C. Meng melk en water saam in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Klits eiers, suiker, vanielje en mielieblom saam tot lig. Voeg warm melkmengsel by en meng goed. Gooi mengsel terug in kastrol. Kook vla tot dik terwyl jy heeltyd roer. Haal af van hitte en laat afkoel. Gooi vla in uitgevoerde los-boompan. Plaas in oond en bak 1 uur. Haal uit en laat afkoel. Laat oornag in yskas. Smelt appelkooskonfyt en verf laag konfyt bo-op tert.