Hier's nou 'n propperse winterpoeding vir die yskoue dae.

(Genoeg vir 8 – 10)

  • 1 lang Franse brood
  • genoeg botter en appelkooskonfyt om die brood mee te smeer
  • 6 eiers, geskei
  • 1 liter melk
  • 150 g (180 ml) strooisuiker

Verhit oond tot 180 °C. Sny brood in snye. Smeer snye aan een kant met botter en appelkooskonfyt. Pak die snye brood styf langs mekaar op die bodem van ’n diep oondbak wat groot genoeg is. Klits die eiergele en melk saam en gooi oor die brood. Laat staan sowat 30 minute. Plaas in oond en bak sowat 30 minute. Klits intussen die eierwitte styf en voeg die suiker lepel vir lepel by. Maak ’n lekker stywe meringue. Skep dit bo-op die poeding en bak verder tot die meringue ’n mooi bruin kleur het. (Dit duur so ongeveer 10 – 12 minute.) Sit warm voor.