(15 gebraaide soetrissies)

  • 140 g (250 ml) koekmeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 1 eier, geklits
  • sowat 250 ml sodawater
  • 15 klein rooi, groen en geel soetrissies
  • 250 g haloumi-kaas, in 1 cm-stukke gesny
  • sowat 500 ml sonneblomolie
  • sowat 140 g (250 ml) koekmeel, om die soetrissies in te rol

Sif die meel en bakpoeier saam in ’n mengbak. Maak ’n holte in die middel. Gooi die geklitste eier daarin. Voeg sodawater bietjie vir bietjie by terwyl jy heeltyd met ’n ballonklitser klop, sodat dit nie klonte vorm nie. Gooi net genoeg sodawater by om ’n doopbeslag te maak (dis so dik soos mayonnaise). Sny ’n groot keep aan die kant van elke soetrissie. Druk ’n stuk kaas in elkeen. Verhit die sonneblomolie in ’n diep kastrol. Doop die gevulde soetrissies eers in die beslag en dan in die meel en bedek goed. Doop nog ’n keer in die beslag en sit versigtig in die warm olie. Braai weerskante tot ’n ligte goudbruin kleur. As die olie te warm word, draai die plaat net effens af. Dreineer op kombuispapier. Sit warm voor.