(6 porsies)

  • 1,7 kg ontbeende varklies
  • 1 sny bruinbrood
  • 30 ml botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  •  hand vol pietersielie, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • sowat 40 ml olyfolie
  • 15 ml vinkelsaad, fyngestamp
  • sap van een suurlemoen

Verhit jou oond tot 180 ºC. Sny die filet-gedeelte uit die varklies en kap dit baie fyn. Sny kepe in die vel van die varklies. (Jy kan natuurlik vir jou slagter vra om albei takies te doen.) Kap die brood fyn in jou voedselverwerker. Smelt die botter in ’n pan en braai die ui en knoffel tot sag en deurskynend. Meng die fyngekapte varkfilet met die brood, ui, knoffel en pietersielie. Geur met sout en swartpeper. Meng goed. Sit die varklies met die velkant na onder neer. Geur met sout en swartpeper. Skep die vulsel bo-op die vleis in die middel af sodat dit soos ’n wors lê. Vou die rande van die vleis na die middel in en bind die rol goed vas met tou. Plaas ’n groot stuk tinfoelie in ’n oondroosterbak. Gooi die olyfolie op die tinfoelie en plaas die vleis bo-op, velgedeelte na bo. Smeer die vinkelsaad op die vleis en maak seker van die vinkel gaan tussen die kepe in. Gooi die suurlemoensap oor en plaas in die warm oond. Rooster vir sowat 45 minute. Draai die oondtemperatuur af na 160 ºC. Rooster verder vir 1 uur totdat die vel lekker bros is. Sit voor saam met gebraaide appels, ’n verskeidenheid van mosterd en appeljellie.