6 porsies

Porsiegrootte: ± 125 ml

  • 750 ml rooiwyn (merlot)
  • 1 kaneelstokkie
  • 3 peperkorrels
  • 10 ml vlapoeier
  • knippie sout
  • 250 ml laevet-melk
  • 250 ml laervet-room (reduced fat cream)
  • 125 ml suiker
  • 2 eiers, geklits
  • 2,5 ml vanieljegeursel

Gooi rooiwyn, kaneel en peperkorrels in ’n kastrol en laat oor lae hitte afkook tot 125 ml. Maak ’n gladde pasta van vlapoeier en sout met ’n bietjie melk. Verhit res van melk, die room en suiker tot kookpunt. Roer vlapasta geleidelik by kokende melkmengsel. Roer en kook vir 1 minuut tot dik en gaar. Roer ’n bietjie van warm vlasous by geklitste eiers. Roer eiermengsel by warm vlasous in kastrol. Roer tot eier verdik, maar moenie laat kook nie. Roer afgekookte rooiwyn en vanieljegeursel by melkmengsel. Giet mengsel deur ’n sif in ’n mengbak en sit vir 1 uur in die yskas. Giet in ’n roomysmaker en volg die aanwysings. Vries die roomys vir 2 ure voordat jy dit voorsit.

Gelatien-opsie

Vlapoeier is gebruik om die digtheid van laevet-melk en laervet-room te verhoog en om vir die eiergeel-kleur te vergoed. Gelatien kan vlapoeier as stabiliseerder vervang.

Ander idee

Ek het eers die laevet-melk met laevet- ingedampte melk en water vervang om vir die “romerige” effek te vergoed, maar die ingedampte melk-smaak was te opvallend.

Cholesterol

Die 4 eiergele word met 2 heel eiers vervang. Die eierwitte vervang dus 2 eiergele en só word die cholesterolinhoud van die roomys verlaag.

Rooiwyn

My man het gedink ek is ’n bietjie laf met die wegkook van ’n hele bottel rooiwyn! Die wyn dra beslis by tot die totale energie (kJ) van die nagereg, maar is te belangrik om te verminder of te vervang.

Room-wenk

Die vetinhoud is verminder deur laevet-melk en laervet-room (reduced fat cream) te gebruik. Die laervet-room is nie kloproom nie, maar werk goed met die kookmetode wat hier gebruik word.

Vergelyking van voedingstof-analise per porsie

RESEPENERGIEKOOLHIDRATEPROTEIENEVETCHOLESTEROL
Oorspronklik1620 kJ22.5 g5.1 g21.8 g268 mg
Aangepas1326 kJ23.5 g7.0 g12.6 g163 mg