(12 skywe)

Porsiegrootte: 1 skyf

• 150 g ontpitte dadels, fyngekap

• 5ml koeksoda

• 250 ml kookwater

• 25 ml botter

• 50 g bruinsuiker

• 1 groot eier, geklits

• 150 g koekmeel

• 5 ml bakpoeier

• 5 ml fyn kaneel – opsioneel

• 2,5 ml sout

• 25 g hawersemels (oat bran)

• 25 g okkerneute, gekap

Sous

• 250 ml appelsap (bv. Ceres)

• 60 ml bruinsuiker

• 5 ml botter

• 50 ml brandewyn

• 5 ml vanieljegeursel

• 5 ml suurlemoensap

Verhit oond tot 190° C. Plaas gekapte dadels in ’n vlakkerige mengbak sodat mengsel vinniger kan afkoel. Strooi koeksoda oor dadels en giet kookwater oor. Roer mengsel liggies en laat afkoel tot louwarm. Roer botter en bruinsuiker by louwarm mengsel. Laat verder afkoel en roer geklitste eier by. Sif koekmeel, bakpoeier, kaneel en sout saam en roer hawersemels by. Roer neute en dadelmengsel by droë bestanddele. Skep deeg in ’n gesmeerde tertbord van 23 cm. Bak vir 30-35 minute tot goudbruin en gaar. Maak sous deur appelsap en bruinsuiker tot kookpunt te bring. Geur stroop met botter, brandewyn, vanieljegeursel en suurlemoensap. Gooi warm stroop oor poeding sodra dit uit die oond kom. Sit voor met vanieljegegeurde laevet-jogurt of -vlasous of ’n skeppie laevet-roomys.

Minder suiker:

Die soetheid van die poeding is verminder deur bloot van die suiker uit te laat en ’n gedeelte van die soetheid in die stroop met appelsap te vervang.

Kleiner:

’n Kleiner porsie van die poeding kan steeds deel uitmaak van ’n gebalanseerde eetpatroon.

Veselinhoud:

Die veselinhoud is met ’n bietjie hawersemels verhoog. ’n Gedeelte van die meel kan ook met volkoringmeel vervang word.