Gnocchi is byna soos 'n aartappelkluitjie. Dis 'n goeie alternatief vir pasta in 'n gebak. Jy kan die gereg in emaljebekers maak, of in 'n groot bak.

(genoeg vir 4)

  • 30 ml olyfolie
  • ½ ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies
  • 500 g wit sampioene, in skywe gesny
  • 250 g ham, in blokkies gesny
  • 500 ml room
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 150 g parmesaankaas, fyngerasper
  • 2 x 500 g-pakke gnocchi
  • 125 ml room
  • 30 g (30 ml) botter
  • hand vol vars basiliekruid, grofgebreek

Verhit olyfolie in ’n diep pan. Voeg ui en knoffel by. Braai sowat 3 minute en voeg dan die sampioene by. Braai tot sampioene sag is en voeg ham en 500 ml room by. Geur met sout en peper. Verlaag temperatuur en laat prut tot room effens verdik het. Voeg nou sowat 100 g van die kaas by en meng goed deur. Sit die gnocchi in ’n bak en gooi kookwater oor. Laat staan 1 minuut en dreineer. Meng deur sous. Skep mengsel in bekers of in groot bak. Gooi die 125 ml room oor en res van kaas. Stip met botter, plaas in oond en bak sowat 20 – 30 minute tot mooi bruin bo-op. Sprinkel basiliekruid oor en sit voor.

Wenk

Die ekstra room wat aan die einde oorgegooi word, sal keer dat die gereg droog bak.