(3 porsies)

  • 50 g (sowat 50 ml) botter, gesmelt en afgekoel
  • 425 ml volroommelk
  • 1 lourierblaar
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 60 g (60 ml) botter
  • 55 g (100 ml) meel
  • 4 eiergele, goed geklits
  • 5 eierwitte
  • 80 g gruyèrekaas, in klein blokkies gesny
  • 300 ml room
  • 160 g gruyèrekaas, gerasper

Verhit jou oond tot 190 °C. Smeer 6 ramekin-bakkies (twee per persoon) met die gesmelte botter en plaas die bakkies in die yskas. Bring die melk, lourierblaar, ’n knippie sout en ’n klein bietjie peper tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat die melk vir 5 minute prut. Verwyder van hitte. Smelt die 60 g botter in ’n kastrol en voeg die meel by. Meng goed. Verwyder die lourierblaar uit die warm melk en voeg melk bietjie vir bietjie by. Meng telkens goed. (Dis soos jy ’n geurige witsous maak.) Hou aan roer tot die sous dik is. Verwyder van hitte en giet die sous in ’n mengbak. Klits die eiergele by die mengsel. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Klits die eierwitte styf. Klits nou ’n kwart van die styfgeklopte eierwitte in die witsousmengsel. Sprinkel die kaasblokkies oor die res van die geklopte eierwitte. Giet die witsous-mengsel bo-oor die eierwitte-en-kaas en vou die twee mengsels versigtig by mekaar in. Vul die ramekin-bakkies tot bo. Maak die rande skoon en plaas in ’n oondbak. Giet kookwater in die oondbak tot halfpad teen die ramekin-bakkies. Bak vir 15 minute. Haal uit die oond en laat die soufflés in die oondbak afkoel. Haal uit die water. Verwyder die soufflés versigtig uit die ramekins. Plaas in klein oondbakkies en laat staan tot net voor jy dit wil voorsit. Verhit jou oond tot 180 °C. Bring die room tot kookpunt, en geur met sout en peper. Giet die warm room oor die soufflés en sprinkel die gerasperde kaas bo-oor. Bak vir 10 - 12 minute. Sit dadelik voor.

Om te drink

Die volronde, botteragtige smaak van ’n gehoute chardonnay, soos Stellenbosch Hills s’n, sal kers vashou by die ryk gruyèrekaas.