(6 - 8 porsies)

  • 1,3 kg beeslende (tenderloin)
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • sowat 60 ml olyfolie
  • 2 takkies roosmaryn
  • 10 g vars tiemietakkies
  • 3 knoffelhuisies
  • handvol vars pietersielie
  • 30 ml korrelmosterd
Verhit oond tot 220 °C. Bind vleisstuk vas met 'n tou - dit sal help dat die vleis sy vorm behou. Geur met sout en peper. Verhit 30 ml van die olyfolie in 'n pan en braai die vleis rondom bruin. Sit vleis op 'n afkoelrak en dan op 'n bakplaat. Verwyder die roosmaryn en tiemieblaartjies van die takkies af. Sit dit saam met res van olyfolie, knoffel, pietersielie en mosterd in voedselverwerker. Meng tot pasta. Smeer op vleisstuk en sit vleis in oond. As jy van jou vleis baie pienk hou, bak 20 minute vir elke 500 g plus 'n ekstra 15 minute. (Vir gaarder vleis bak jy dit vir 25 minute per 500 g.) Haal uit en laat vleis afkoel. Om te drink:

Cabernet sauvignon of merlot of 'n versnit van beide kultivars. Maak die vleis effe ligter gaar as gewoonlik as jy 'n baie jong rooiwyn bedien, want die ekstra proteïen sal die tanniene in die jong wyn sagter laat proe.