Praat van maksimum effek met min moeite! Jy maak ’n sous, koop meringues en klits room – en die resultaat is dié pragstuk, kamma-pavlova met bessies, vye en framboossous.

Jy kan die framboossous vooraf berei en ’n week in die yskas hou – dan hoef jy net die meringues en vrugte te gaan koop wanneer jy die poeding wil maak.

genoeg vir 4 – 6

FRAMBOOSSOUS

350 g frambose

150 g (180 ml) strooisuiker

100 ml water

SIT SÓ VOOR

250 ml room

8 – 10 winkel-meringues

125 g frambose (raspberries)

125 g bloubessies (blue berries)

10 baba-vye

vars kruisementblare

mikrokruie – basiliekruid of roket

FRAMBOOSSOUS

1. Gooi frambose en suiker in ’n pan. Voeg water by en plaas op stoofplaat. Verhit terwyl jy roer en bring tot kookpunt.

2. Laat prut 5 minute oop, tot sous verdik het.

3. Plaas sif bo-op ’n bak en gooi sous in sif. Druk sous met ’n houtlepel deur sif om van meeste pitte ontslae te raak.

4. Plaas bak op afkoelrak en laat sous afkoel tot kamertemperatuur. Plaas in yskas tot koud.

SIT SÓ VOOR Klits room styf. Rangskik meringues op opdienbord en skep room tussen meringues. Sprinkel frambose en bloubessies oor. Halveer van die vye en rangskik saam met heel vye bo-op. Rangskik kruisement en mikrokruie bo-op. Gooi klein bietjie framboossous oor en sit res van sous saam voor in ’n bekertjie.

Kry dié resep en nóg kortpadresepte in die nuwe SARIE KOS - nóú beskikbaar!

sarie kos pavlova vinnige kos

Pavlova met bessies, vye  en framboossous Pavlova met bessies, vye en framboossous FOTO: Micky Hoyle