Niks is vir my so lekker soos lamskerrie nie. In 'n pastei is dit byna nog lekkerder. Vir daardie spesiale smaak voeg ek reg teen die einde blatchang by die kerrie.

(6 x 11 cm-pasteie)

  • 30 ml olyfolie
  • 1 kg ontbeende lamsboud, in blokkies van sowat 2 – 3 cm gesny
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies
  • 5 ml fyn komyn
  • 1,25 ml fyn gemmer
  • 10 ml fyn koljander
  • 1,25 ml fyn kaneel
  • 15 ml masala
  • 5 ml borrie
  • sap van 1 suurlemoen
  • 1 blik (400 g) gekapte tamaties
  • 1 blik (400 ml) klappermelk
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 30 – 45 ml blatjang
  • 3 rolle (400 g) blaardeeg
  • 1 eier, geklits
  • 1 vel (200 g) vierkantige blaardeeg

Verhit oond tot 180 °C. Verhit olyfolie in ’n kastrol. Voeg lamsvleis by en braai tot net bruin. Voeg ui en knoffel by en braai tot ui sag en deurskynend is. Voeg komyn, gemmer, koljander, kaneel, masala en borrie by. Braai sowat 5 minute. Voeg suurlemoensap, tamaties en klappermelk by. Geur met sout en peper en maak kastrol toe met deksel. Plaas in oond en oondbraai 2½ uur. As die vleis te droog begin kook, voeg ’n klein bietjie kookwater by. Skep uit in bak en roer blatjang deur. Laat heeltemal afkoel. Sny elke rol van die 400 g blaardeeg in vier tot jy 12 kleiner kwarte het. Voer ses 11 cm- gesmeerde pasteibakkies uit met blaardeeg. Laat van die deeg effe oor die rand van die bakkie hang. Verdeel vulsel tussen bakkies. Verf die rand van die deeg met geklitste eier. Plaas die ander deeg bo-op en druk goed vas. Sny nou die oortollige deeg af. Smeer met geklitste eier bo-op. Sny die vierkantige vel blaardeeg in dun stroke van nie breër as 1 cm nie. Weef ’n patroon op elke pastei met die stroke. Verf met geklitste eier. Plaas bakkies op bakplaat en in oond. Bak 45 minute – 1 uur. Haal uit en sit warm voor.