Sowat 16 lekkers

Wit laag

  • 400 g (500 ml) suiker
  • knippie sout
  • 150 ml water
  • 1 ml kremetart
  • 12,5 ml glukosestroop (beskikbaar by apteke)
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 160 g (500 ml) klapper

Voer ’n pannetjie van so 26 x 13 cm en 5 cm diep met bakpapier uit en smeer dit. Meng suiker, sout, water, kremetart en glukose in ’n kastrol. Bring mengsel tot kookpunt oor lae hitte terwyl jy heeltyd roer. Dit moenie begin kook voordat die suiker opgelos is nie. Kook tot 115 °C. Haal van hitte af en laat afkoel tot louwarm (40 °C). Voeg geursel en klapper by. Klop tot dik en romerig – die maklikste is om dit in ’n elektriese menger te gooi. Gooi mengsel in uitgevoerde pannetjie. Maak nou die pienk laag.

Pienk laag

Volg resep nes hierbo. Wanneer jy die geursel byvoeg, kleur die mengsel ook met pienk voedselkleursel. Skep pienk laag bo-op wit laag en laat mengsel styf word voordat jy dit in blokkies sny.