10 Klein Koeke

Baktyd: 60 minute

  • 1 x 440 g-blik pynappelringe, gedreineer

Stroop

  • 200 g (250 ml) moskovado-bruinsuiker
  • 60 ml water

Plaas suiker en water in pan. Verhit oor lae hitte, maar moenie roer nie. Skud net so af en toe die pan. Verhit tot kookpunt en stel die temperatuur laer. Laat prut tot karamel. Spuit groot muffinpanne met 250 ml-holtes met kleefwerende kossproei en verdeel die stroop tussen die panne. Plaas ’n pynappelring bo-op die stroop in elke holte.

Koek

  • 210 g (375 ml) bruismeel
  • 50 g (90 ml) koekmeel
  • 90 ml fyn amandels
  • 3 ml bakpoeier
  • 2 ml sout
  • 350 g (440 ml) suiker
  • 230 g (250 ml) ongesoute botter
  • 4 eiers
  • 2 ml vanieljegeursel
  • 190 ml crème fraîche

Verhit oond tot 180 °C. Sif bruismeel, koekmeel, fyn amandels, bakpoeier en sout saam. Hou  eenkant. Room suiker en botter tot lig en romerig. Klits eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg vanielje by. Voeg meelmengsel by en meng deeglik. Vou crème fraîche by sonder om te veel te meng. Verdeel mengsel tussen muffinpanne. Bak vir 1 uur in warm oond. Toets met dun pennetjie om seker te maak die koek is gaar. KEER SO UIT Gly die lem van ’n skerp messie om die deegrande om seker te maak dis los van die pan. Plaas ’n afkoelrak bo-op die pan, hou die  kante van die pan én afkoelrak stewig vas met ’n kombuislap en keer dit versigtig om sodat al die koekies saam uit die pannetjies kom.