Genoeg vir 8 – 10

Stoltyd: verkieslik oornag

  • 4 velle gelatien
  • 125 ml koue water
  • 250 g vars aarbeie, blare verwyder
  • 4 eiergele
  • 250 g (300 ml) strooisuiker
  • 250 ml room
  • 4 eierwitte

Maak vir elke koppie ’n kraag van bakpapier en maak dit sowat 2 cm langer as die lip van die koppie. Week die gelatienvelle in koue water vir 10 minute. Verpulp aarbeie in voedselverwerker. Bring ’n kastrol met water tot kookpunt. Plaas die eiergele in ’n bak wat op die kastrol pas en sit dit oor die kokende water. Voeg die helfte van die strooisuiker by en klits tot lig en romerig. Klits dit heeltyd, anders sal die eiergele gaar word. Druk water uit die gelatienvelle uit en voeg die velle by warm eiergeelmengsel. Die gelatien sal nou verder smelt. Voeg die aarbeipuree nou ook by. Klits eierwitte tot stywepuntstadium en voeg die res van die strooisuiker lepel vir lepel by. Klits goed ná elke byvoeging. Dit sal soos ‘n meringue lyk. Vou die meringue in aarbeimengsel. Klits room styf en vou in. Skep in koppies of bakkies en plaas verkieslik oornag in yskas tot gestol. Rond dit af met pashmak net voor jy dit voorsit.

Wenke oor gelatien

  • As jy nie velle gelatien kan kry nie, kan jy elke vel met 2,5 g poeiergelatien vervang.
  • Gooi die poeier in koue water (gebruik5ml water vir elke 2,5 g poeier). Laat dit spons en plaas die houer oor ’n bakkie kookwater tot dit gesmelt het. Voeg dadelik by warm mengsel.
  • As jy warm, gesmelte gelatien by ’n kouemengsel voeg, sal dit dadelik begin stol en dan sal jy sulke gestolde gelatienklontjies in jou nagereg kry. Dit is nie baie aangenaam nie en maak baie mense skrikkerig om met gelatien te werk.