(4 - 6 porsies)

  • 1 heel eend
  • 5 lemoene
  • 2 heel kaneelstokke
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 100 g ligte bruinsuiker
  • 125 ml appelwynasyn
  • 80 ml brandewyn

Verhit jou oond tot 160 °C. Vul die holte van die eend met een lemoen en die kaneelstokke. Geur die eend met sout en swartpeper. Prik die vleis met ’n vurk of skerp messie. Plaas die eend op ’n rakkie in ’n oondroosterbak. Rooster vir ’n uur. Draai dit ná ’n halfuur om. Rasper intussen die skil van die ander 4 lemoene en druk die sap uit. Blansjeer die skil vir 1 minuut in kookwater. Dreineer en gooi in koue water. Smelt die bruinsuiker in ’n pan tot dit gekaramelliseer het. Voeg die asyn by en kook vir 3 minute. Gooi die brandewyn, lemoensap en skil by en kook vir nog 3 minute. Verhoog die oondtemperatuur na 180 °C. Verf van die sous ná die eerste uur oor die eend en rooster verder vir 1 uur, terwyl jy so elke 10 minute nog sous oorverf. Die vel moet bruin en bros word. Vir die mooi kan jy twee dun lemoenskyfies vinnig in botter braai vir garnering.

Om te drink

’n Jong pinot noir met ‘n lewendige suur-inhoud pas by die suur smaak van lemoen. Probeer een uit die Elgin-vallei: Paul Cluver, Hamilton Russel en Oak Valley.