Resep deur Annerien Vermeulen

(sowat 30 muffins (30 g elk))

  • 175 ml meel
  • 175 ml volgraanmeel
  • 125 ml sagte bruinsuiker
  • 7 ml bakpoeier
  • 2 ml fyn kaneel
  • 1 ml fyn neutmuskaat
  • knippie fyn naeltjies
  • knippie sout
  • 125 ml donkersjokolade, splinters
  • 60 ml gedroogde bosbessies
  • 1 eier
  • 125 ml wit bone, afgespoel en gedreineer
  • 125 ml gaar pampoen, fyngemaak
  • 50 ml melk
  • 30 ml kanola-olie
  • 5 ml vanielje-ekstrak

Verhit oond tot 190 °C. Spuit 2 mini-muffinpanne met kleefwerende kossproei. Meng meel, volgraanmeel, suiker, bakpoeier, speserye, sout, sjokoladesplinters en gedroogde bosbessies. Maak ’n holte in die middel van die mengsel. Verwerk eier, bone, pampoen, melk, olie en vanielje in ’n voedselverwerker tot glad. Voeg die eiermengsel in die holte by die droë mengsel en meng goed. Skep teelepels vol in die muffinpannetjies. Bak sowat 15 minute tot gaar.

Mini-pampoen-muffins

analise per 30 g

energie 284 kJ

koolhidrate 11 g

Proteïen 1,6 g

Vet 2,3 g

Versadigde vet 1 g

mono-onversadigde vet 0,9 g

Poli-onversadigde vet 0,4 g

Vesel 1,2 g

glukemiese lading 6,2

Kommentaar van Dieetkundige

Wat ’n lekker en gesonde happie, sonder skuldgevoelens! Ook ’n maklike manier om te sorg dat die kinders groente en vesel inkry.