6 Porsies

Deeg

• 100 g (110 ml) ongesoute botter

• 160 g (285 ml) koekmeel

• knippie sout

• 20 ml strooisuiker

• 1 eiergeel, geklits met 37 ml koue water

Verhit oond tot 200 ºC. Meng botter en meel in voedselverwerker totdat dit soos broodkrummels lyk. Voeg sout en strooisuiker by, en daarna eiergeelmengsel. Dit sal ’n lekker stywerige deeg vorm. Bedek met plastiek en los deeg in die yskas vir sowat 1 uur. Rol deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Gebruik 6 klein pannetjies van 7 – 8 cm. Smeer of spuit pannetjies goed. Druk sirkels uit wat groter is as die pannetjies en voer

pannetjies daarmee uit. Sit bakpapier bo-op deeg. Vul met droëbone en bak vir 12 minute. (Onthou net, jy kan nie die boontjies daarna weer gebruik nie.) Laat afkoel.

Appelvulsel

• 4 rooi appels

• 75 g (90 ml) strooisuiker

• 5 ml fyn kaneel

Verhit oond tot 180 ºC. Skil appels en sny in dun skywe. Meng strooisuiker en kaneel en strooi oor gesnyde appels. Meng goed. Pak appels mooi in afgekoelde tertbakkies. Bak vir 20 minute. Haal uit en laat afkoel. Maak intussen vlavulsel wat oor tertjies gegooi en verder gebak moet word.

Vla-vulsel

• 1 eier

• 75 g (90 ml) strooisuiker

• 30 ml koekmeel

• 100 ml room

• 30 ml brandewyn

• 15 ml strooisuiker

Klits eier en strooisuiker saam tot lig. Voeg meel by, dan room en brandewyn en klits goed. Plaas tertpannetjies op ’n bakplaat, gooi vlavulsel oor en bak vir 10 minute teen 180 °C. Haal uit oond en strooi die 15 ml strooisuiker oor tertjies. Plaas terug in die oond vir nog 20 minute. Jy kan die tertjies verder bo-op karamelliseer met ’n blaasvlam. Sit warm of koud voor, nes jy dit verkies.