• 250 g witbroodmeel
  • 250 g koekmeel
  • 10 ml sout
  • 1 x 10 g-pakkie kitssuurdeeg
  • 15 ml suiker
  • sowat 250 ml louwarm water
  • 45 ml olyfolie
  • 100 g ontpitte swart olywe
  • 100 g ontpitte groen olywe

Stap 1

Meng die broodmeel, koekmeel, sout, suurdeeg en suiker saam in 'n groot mengbak. Voeg die water geleidelik by totdat jy 'n lekker stywe deeg het. Knie vir sowat 10 minute. Plaas terug in die mengbak en smeer 'n bietjie olyfolie oor die deeg. Maak toe met kleefplastiek en laat rys tot dubbel die grootte op 'n warm plek.

Stap 2

Knie die deeg af en voeg die olyfolie by. Knie die olyfolie goed deur.

Stap 3

Vorm in 'n lang, ovaalvormige brood en plaas op 'n gesmeerde bakplaat. Rangskik die olywe bo-op en laat rys weer tot dubbel die grootte. Bak vir sowat 30 minute teen 200 °C in 'n voorverhitte oond. Sprinkel 'n bietjie growwe sout oor - dis opsioneel.

Wenk

  • As jy nie van olywe hou nie, kan jy vars roosmaryntakkies bo-op indruk.
  • Jy kan ook die brood net so bak sonder enigiets bo-op.