(sowat 24 stokkies)

  • 1 kg broodmeel + ekstra vir uitrol
  • 750 ml water
  • 4 teelepels (20 ml) sout
  • 15 g vars gis
  • 500 g olywe, ontpit
  • 50 g koekmeel

Sif meel op werkoppervlak en maak ’n holte in die middel. Verdeel 400 ml van die water tussen twee afsonderlike houers, 200 ml water per houer. Laat die sout in die een houer met water oplos, en voeg die gis by die water in die ander houer. Gooi die oorblywende 350 ml water in die holte in die meel op die werkoppervlak. Begin die meel van binne af inmeng in die water tot al die water op is en ’n slap deeg vorm. (Daar sal nog heelwat meel rondom oor wees.) Gooi nou die giswater by die slap deeg en meng verder met van die oorblywende meel tot jy ’n slap pasta het. Voeg laastens die soutwater by en meng die res van die meel rondom heeltemal in. Sprinkel ’n klein bietjie ekstra meel op die deeg en vorm dit in ’n bal. Die deeg sal ’n baie taai voorkoms hê. Plaas dit in ’n bak wat gesmeer is met olie en maak toe met ’n skoon kombuisdoek. Laat rys op ’n warm plek vir sowat 45 minute. Vou die uitgerysde deeg se kante na die middel oor mekaar. Herhaal die vouery tot al die lug uit is en die deeg ferm begin voel.

Laat weer rys vir 45 minute en vou dan weer tot die lug uit is. Sit die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak en rek dit uit tot in ’n vierkant van sowat 5 mm dik. Meng olywe met 50 g koekmeel en sprinkel oor 2/3 van die deeg. Vou die skoon 1/3 deeg oor 1/3 wat bedek is met olywe. Vou die twee lae oor tot bo-op die derde laag met olywe. (Jy sal drie lae deeg hê met 2 lae olywe tussenin.) Plaas in bak wat gesmeer is met olyfolie en laat rys vir 45 minute. Knie af en laat weer rys vir 30 minute. Keer deeg uit op meelbestrooide oppervlak en druk dit plat tot so dik soos jou duim. Sny in repe van sowat 2,5 cm dik. Rol elke reep met jou handpalms tot sowat 30 cm lank. Verhit oond tot 220 °C. Plaas gerolde repe op bakplaat wat goed geolie is en laat rys weer vir 30 minute. Bak vir 12 – 15 minute of tot goudbruin.