Japie was S.J.A. de Villiers se man en van al die poedings in haar kookboek het hy die meeste van haar gebakte lemoenpoeding op bl. 252 gehou. Hier keer ek die poeding op sy kop en maak hom nuut. Oom Japie sou beslis hiervan gehou het!

genoeg vir 8

Lemoensous

  • 140 g (145 ml) strooisuiker
  • 170 ml lemoensap
  • 170 g (185 ml) ongesoute botter, in blokkies gesny
  • 4 eiergele, geklits
  • 2 eiers, geklits

Meringue

  • 4 eierwitte
  • 210 g (250 ml) strooisuiker
  • 1 x 400 g madeirakoek

Meng al die bestanddele vir die sous saam in ’n kastrol. Verhit oor lae hitte terwyl jy roer. Laat prut vir sowat 15 – 20 minute. Jy moet heeltyd roer en die mengsel moet dik wees voor jy dit van die hitte verwyder. Gooi dan onmiddellik in ’n glasbak en plaas kleefplastiek direk op mengsel. Laat afkoel voor gebruik. Meringue Plaas eierwitte vir meringue in mengbak en klits op hoë spoed tot sagte punte vorm. Gooi strooisuiker geleidelik by en hou aan klits tot blink en styf, sowat 5 – 8 minute. Sny koek in blokkies en pak helfte in groot glasbak. Gooi helfte van lemoenmengsel oor. Spuit dun laag meringue oor. Brand bruin met kombuis-blaasvlam. Pak res van koek bo-op, gevolg deur res van lemoenmengsel. Skep orige meringue op mengsel en brand bruin met kombuis-blaasvlam. Sit voor.