genoeg vir 8 – 10

Deeg

• 400 g (715 ml) koekmeel

• 200 g (220 ml) botter, in blokkies gesny

• 1 eiergeel

• 75 ml koue water

Sit die meel en botter in ’n voedselverwerker en meng goed deur. Voeg die eiergeel en water by. Meng tot ’n deeg vorm. Haal deeg uit en maak toe met kleefplastiek. Laat rus sowat 30 minute in yskas. Maak intussen die vulsel.

Vulsel

• 800 g ricotta-kaas

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• 1 eier, geklits

• hand vol vars basiliekruidblare, fyngekap

• 100 g ontpitte swart olywe

• 100 g ontpitte groen olywe

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 1 groot geel tamatie

• 2 groot rooi tamaties

• 1 eier, geklits, om deeg mee te verf

Verhit oond tot 200 °C. Plaas ricottakaas in ’n groot mengbak. Voeg knoffel, eier, basiliekruid en olywe by. Meng goed deur. Geur met sout en peper. Haal deeg uit yskas en rol ’n groot sirkel van sowat 35 cm in deursnee uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Plaas deegsirkel op ’n groot bakplaat wat uitgevoer is met bakpapier. Skep vulsel op deeg, maar los rand oop van sowat 5 – 6 cm. Sny tamaties in skywe en rangskik op vulsel. Geur tamaties met sout en peper. Vou die deegrand terug op die vulsel. Verf deeg met geklitste eier en plaas in oond. Bak 1 uur. Haal uit en sit warm voor.