Hierdie resep kom van my assistent Cara se ouma Estelle Rademeyer, wat dit om en by in 1964 in ’n vrouetydskrif gekry het. Die poeding het nie ’n naamgehad nie, maar volgens die berig is dit gereeld vir gaste in ’n hotel op Queenstown voorgesit. Só het die naam hotelpoeding ontstaan.

(4 Bekertjie-porsies)

  • 140 g (250 ml) koekmeel
  • 30 ml botter
  • 250 ml melk
  • 7 ml koeksoda
  • 2 eiers, geklits
  • 250 ml fyn appelkooskonfyt
  • 15 ml asyn of suurlemoensap

Verhit oond tot 180 °C. Sit meel in mengbak en voeg botter by. Vry botter in meel tot dit soos broodkrummels lyk. Meng melk en koeksoda saam. Maak holte in middel van meelmengsel en voeg melkmengsel en res van bestanddele by. Meng goed tot deeg vorm. Skep deeg in vier emaljebekers, wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Plaas bekertjies op bakplaat en dan in oond. Bak sowat 45 minute – toets met dun pennetjie om seker te maak dis gaar.

Sous

  • 250 ml room
  • 200 g (250 ml) suiker
  • 1 eier, geklits

Meng alles en giet oor gebakte nagereg nadat dit behoorlik afgekoel het. Bak verder in matige oond vir 10 tot 20 minute totdat sous begin dik word. Sit warm voor.